Subscribe by Email

Dele van die omstrede staatskapingverslag na bewering reeds uitgelek

Foto Reuters

Foto Reuters

Die uittredende Openbare Beskermer, Thuli Madonsela sê haar regsverteenwoordigers en dié van ander rolspelers het ooreengekom dat haar verslag oor staatskaping in veilige bewaring bly tot die 1ste van aanstaande maand wanneer aansoeke om ‘n hofbevel teen die vrystelling daarvan, aangehoor sal word. Madonsela het vanmiddag haar laaste mediakonferensie gehou. Sy wou nie besonderhede oor die verslag bespreek nie, maar sê sy is verbaas oor die optrede van die minister van Samewerkende Regering, Des van Rooyen en president Jacob Zuma. Albei het ter elfder ure aansoek gedoen om ‘n hofbevel om die vrystelling van die verslag te keer. Madonsela sou die verslag vandag bekendmaak.

Die organisasie, Black First Land First sowel as ondersteuners van Cope het voor die OB se kantore in Pretoria saamgedrom waar Madonsela haar laaste nuuskonferensie toegespreek het. Die Cope-ondersteuners steun die Openbare Beskermer vir wat sy in haar termyn uitgerig het, terwyl die Black First Land First-beweging besware wou opper. Andile Ngcitama van die beweging sê Madonsela was bevooroordeeld in haar uitsprake en het glad nie op klagtes daaroor reageer nie.

Vroeër is daar deur die BBC berig dat Des van Rooyen, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, tee gedrink het saam met die Gupta-familie die aand voor hy as finansies minister aangestel is. BBC Africa het vroeër Vandag berig dat bronne na aan Madonsela se kantoor dele van die omstrede staatskapingsverslag gelek het. Volgens hierdie bronne is die verslag verdoemend en Madonsela het glo selfoonopnames wat bewys dat Van Rooyen by die Gupta-familie tee gedrink het die aand voordat Nhlanhla Nene in Desember verlede jaar as minister van finansies afgedank is.