Subscribe by Email

Deense studie dui op verband tussen griep tydens swangerskap en outisme

Moeders wat griep tydens swangerskap gekry het, se kanse was twee keer so groot om ‘n outistiese kind in die lewe te bring as ‘n ma wat nie griep gehad het nie.

‘n Deense studie wat pas in die joernaal, Pediatrics gepubliseer is, het behels dat 97 000 kinders tussen die ouderdomme van 8 en 14 ondersoek is, waarvan net een persent op die outismespektrum gediagnoseer is.

Uit hierdie een persent gevalle het dit geblyk dat die moeders wat tydens swangerskap griep gehad het, se kanse twee keer so groot was dat die baba outistiese sou wees as diegene wat nie griep ontwikkel het nie. Onder die moeders wat voor die 32ste week van swangerskap koors gehad het, was die kanse selfs drie keer so groot.

Die navorsers beklemtoon dat die navorsing nie daarop dui dat griep of hoë koors outisme veroorsaak nie. Dit dui wel daarop dat swanger vroue hulle teen griep behoort te laat inspuit.

Verskeie genetiese mutasies is reeds geïdentifiseer wat met verskillende variasies van outisme verband hou. In sekere gevalle het mense wel die mutasies maar toon geen teken van outisme nie, wat daarop dui dat minstens sommige tipes outisme deur snellerfaktore “geaktiveer” word. Die griep sou dus nie noodwendig self die outisme veroorsaak nie, maar kan dit dalk “aktiveer” as die mutasie reeds teenwoordig was.

Die navorsers is duidelik gevoelig daarvoor dat moeders nie deur hul gesinne en selfs uitgebreide families verkwalik word vir die kinders se outisme nie. Hulle wys daarop dat die studie van moeders se terugvoer, en nie mediese rekords nie, verkry is. Daar kon dus geen definitiewe verband tussen griep, langdurige koors en outisme bepaal word nie.

 

 

Herman Toerien