Subscribe by Email

Dealesville kniediep in die …

Dealesville ervaar gereeld krisisse met septiese tenks wat nie deur die munisipaliteit van Tokologo uitgepomp word nie. Dit beteken dat inwoners nie hul toilette kan gebruik sonder dat rou riool in hul tuine of in die strate uitloop nie. Op 21 Januarie 2011 was Tokologo met meer as 40 tenks agterstallig en teen 11 Februarie 2011 met meer as 30 tenks. Vanoggend (12 April 2011) is die munisipaliteit weer met meer as 30 tenks agterstallig.

Die probleem word deur stokou afgeleefde toerusting veroorsaak wat nie in stand gehou word nie. Die een suigtrok is reeds maande lank onklaar en die oorblywende een is op 8 April 2011 deur die verkeersowerhede van die pad afgetrek omdat dit onpadwaardig is.

Op 25 Januarie 2011 het Cornelius Jansen van Rensburg, woordvoerder AfriForum oor plaaslike aangeleenthede, ʼn brief aan Tokologo gerig waarin hulle versoek en gemaan is om toe te sien dat die riooltoerusting betyds versien word en dat die suigtrokke padwaardig is. Die munisipaliteit van Tokologo het die brief geïgnoreer en nou vererger die situasie en die bedreiging van gesondheidstoestande op die dorp net verder. AfriForum sal die toestand volg en op verdere aksie besluit.