Subscribe by Email

Danny Jordaan bedank as opposisieleier

1jordaanDie voormalige burgemeester van die Nelson Mandelabaai Metropool, Danny Jordaan het as opposisieleier bedank. Die ANC het die bedanking bevestig. ‘n Woordvoerder, Gift Ngqondi sê besluite wat tydens die party se onlangse streekskonferensie geneem is asook voorbereidings vir die tussenverkiesing op 9 November sal later tydens ‘n mediakonferensie bekend gemaak word.

Volgens Kristoff Adelbert, die kantoorhoof van die uitvoerende burgemeester, Athol Trollip, het hulle die verwydering van Jordaan as raadslid oorweeg omdat die Wet op Munisipale Stelsels bepaal ’n raadslid wat by drie of meer agtereenvolgende vergaderings afwesig is, kan uit sy amp verwyder word.

Jordaan was nie by die inhuldiging van Trollip as uitvoerende burgemeester op 18 Augustus nie en het ook nie die daaropvolgende raadsvergaderings bygewoon nie. Die ANC het aangekondig dat sy uittrede as leier van die ANC in die metroraad by ’n nuuskonferensie Maandagmiddag bespreek sal word.