Subscribe by Email

Dankie aan Mandisa

Die oorspronklike gedagte was dalk net nog ‘n hartseerstorie oor ‘n arme VIGS wesie , maar toe draai dit uit in ‘n lewensverrykende ondervinding met waardevolle lesse. Klink dalk na ‘n cliché en ek gee toe mag dalk met rukke soetsappig en swartgallig raak, maar hierdie is ‘n ondervinding vol waarheid, vol emosie, vol dankbaarheid en propvol liefde en genade wat ek net moet deel.

Na bewering is die babadogtertjie in die vroeë oggendure van 30 Oktober 2009 iewers in Johannesburg by ‘n skuiling vir emigrante gebore. Haar ma – ‘n Zimbabwiese vrou wat na Suid-Afrika toe gekom het met die hoop vir werk sodat sy oorlewing geld vir haar siek man en kinders oor die grens kon stuur. Hier het sy dalk vanweë slegtigheid, dalk vanweë eensaamheid of dalk verlange, wie sal weet, oor die tou getrap en swanger geraak.

Nodeloos om te se was die nuwe baba nie met ope arms verwelkom nie, want hoe gaan verduidelik die vrou dit aan haar familie by die huis. Die skande, dit kan tog nie.? Die vrou doen toe wat sy as enigste uitkoms sien en gee die baba vir ‘n vriendin om iewers te gaan los waar iemand haar darem sal versorg. Na bykans twee maande van vele omswerwinge vind die baba eindelik ‘n huis en ‘n naam in Kempton Park. Hier aan die verkeerde kant van die treinspoor, vind jy die Reënboog huis waar tannie Bettie en haar 3 engele ‘n veilige tuiste geskep vir 15 HIV positiewe kindertjies. Ja, saam met weeskind status het die babadogtertjie ook HIV status gekry. Die naam wat hier vir haar gegee word is Mandisa. Dit beteken in Xhosa: Die een wat geluk vir almal bring. ‘n Baie gepaste naam vir ‘n baie gepaste situasie sou ek later eers ontdek.

Dit is hier in die verwaarloosde tog netjiese huis wat ek Mandisa die eerste keer sou ontmoet. Ek? Wie is ek? Ek is Natasha. Ses en dertig jaar oud, geskei en enkelma van ‘n amper tienerseun. Om my daaglikse brood te verdien werk ek as ‘n administratiewe beampte by ‘n internasionale firma in Johannesburg. Soos duisende mense daarbuite kom ek uit ‘n gemiddelde blanke Afrikaner gesin met ‘n goeie kwota van braaivleis, rugby, politiek en kerk tydens die apartheidsera. My ouers se ongelukkige huwelik en eindelike egskeiding later laat my met meer verwronge idees, teleurstelling, swak selfbeeld en eiewaarde as wat ek ooit sal wil erken.

Soos enige slegte gewoonte dra ek al hierdie negatiwiteit en onsekerheid oor na my eie huwelik toe en nodeloos om te se maar toe my huwelik jare later verbrokkel laat dit my ‘n ontnugterde en bitter vrou. Met ‘n hart wat vol is van die seer van misluk het my verhouding met my Skepper ook stadig maar seker tot niet gegaan. Bitter teleurgestel deur die verloop van my lewe het ek begin wonder oor die sin van alles. Wat is die doel vir al die seer en teleurstellings? Hoekom as ek geleer het die God wat ek dien is ‘n God van Liefde is daar soveel trane in die wêreld? Ook oor my eie bestaan het ek begin wonder. Wat is my doel op aarde? Daar was selfs ‘n keer of wat dat ek in die middel van die nag as selfbejammering soos ‘n kombers snoesig om my gevou het die taboe vrae gevra het.

Soveel goeie mense wat elke dag hulle lewe verloor, ek wat niks regtig beteken nie, hoekom word ek gespaar? Word ek gestraf vir al my sonde? Nogal hengse pateties en ondankbaar nè, want ek het gesondheid, ‘n pragtige kind, ‘n wonderlike verhouding met ‘n spesiale man, werk, blyplek, kos….. wat meer kan ek dan voor vra om eindelik tevrede en gelukkig met my lewe te wees? Te berus? Baie sou antwoord ‘n taai klap oor my ondankbaarheid of geleerdes sou my dalk kon diagnoseer met sussende groot woorde soos depressie . Maar uit my selfgeleerde nuuskierige geaardheid van oor goed wonder, dink en ontleed is dit die tipe van vrae aan my Skepper waarvoor ek geglo het ek nooit die antwoorde sou ken nie en vir altyd oor sou moes raai. Min kon ek weet dat Liewe Jesus vir my op die mees onverwagse en verrassende wyse in ‘n split sekonde sou antwoord selfs op goed wat ek nie eers antwoorde voor wou gehad het nie.

Met die afskop van die Sokker Wêreldbeker stroom al wat oorsese aandeelhouer in ons firma Suid-Afrika binne. En soos die buitelanders maar is soek hul gou nuwe Afrika-afleiding toe hul agterkom daar loop rêrig nie leeus in Pretoria se strate rond nie en daar wei geen renosters langs OR Tambo lughawe nie. So word ek toe opgekommandeer om een van die aandeelhouers te gaan wys hoe lyk ‘n plek waar HIV weeskinders versorg word met die belofte van ‘n donasie natuurlik. Met baie ander werk wat wag en min lus google ek sommer vinnig en kry die adres van ‘n plek naaste aan ons werk. Kyk ek is nie ‘n rassis nie en het baie empatie met mense, maar die wat die media ons om elke hoek en draai bombardeer met foto’s en beelde van ondervoede, boepens, grootoog en neusloop kindertjies het gemaak dat ek heeltemal bevooroordeeld is. Afterall, sus ek my gewete met die idee dat dit tog nie “my mense” is nie en dat dit my nie raak nie……het ek al genoem dat ek nie ‘n rassis is nie? Rêrig, ek werk en gesels tog te lekker by die werk saam almal en by die skool speel my kind heerlik met al sy maatjies, maar in ons huis en om ons etenstafel kuier gewoonlik net “my mense”. Is mos hoe dit hoort as mens wil aanvaar word deur “my mense”. Ek bedoel toe ek kla dat ek die een is met die gedwonge taak om ‘n HIV weeshuis te gaan besoek, het ek talle simpatieke kyke gekry met vrae soos is daar darem van “ons mense” ook daar wat gaan baat vind by die donasie. Natuurlik het ek saam gepraat toe daar weer geredeneer is oor hoe “my mense” maar altyd aan die agterspeen moet suig. Ek haat niemand nie en ek gun elke persoon sy plekkie in die son. Ek is dus nie ‘n rassis nie….?

Donderdagoggend, 17 Junie 2010, staan ek die oggend half beneuk op. Vandag is die dag wat ek my Sondagskool engels en maniere moet mooi afstof vir die aandeelhouers, want vandag gaan ons die Vigs Wesies besoek. So niks lus daarvoor nie! Toe ons skuins voor 10 voor die Reënbooghuis stilhou met verf wat plek-plek afskilfer en ‘n stukkende tuinhekkie raak ek erg benoud. Wat het my besiel om so ‘n plek te gekies het? Ek moes eers self kom kyk het voor ek die belangrike oorsese mense hiernatoe gebring het. Wat nou? Nog voor ons behoorlik deur die hekkie is gaan die voordeur oop en word ons hartlik verwelkom deur ‘n maer gryskop tannie in ‘n blou voorskoot. Haar glimlag en blink bruin oe stel my dadelik op my gemak en sommer gou gesels ons almal land en sand oor ‘n koppie tee en koeksisters. Teen die tyd wat sy ons aan die kinders gaan voorstel voel ek al sommer tuis en maak ‘n gedagte nota dat ek haar tog moet vra hoe het dit gekom dat ‘n blanke Afrikaanse boeretannie soos sy met die Reënbooghuis opeindig het. (Nou dat ek daaraan dink, ek het haar toe nooit gevra nie. Miskien omdat ek reeds die antwoord voor die einde van ons besoek sou ken.) Sien toe ons die eerste slaapkamer, wat dien as die siekekamer, binnestap is dit asof iemand my hart tot stilstand ruk.

Daar in die bedjie, naaste aan die deur sit ‘n babatjie. Ruggie regop. Doodstil. Handjies voor die oe asof sy wegkruip. Die ander babas lag, huil, kreun, maak geluide en babbel in babataal , maar hierdie een klein, fyn mensie het steeds nie beweeg of ‘n geluid geuiter nie. So asof sy ‘n mannekyn poppie is wat iemand daar in die groot wit bababed vergeet het. Die optog begin aan beweeg na die speelkamer en ander kinders, maar ek huiwer steeds in die siekekamer deur. Versigtig en effens senuweeagtig stap ek nader aan die bababed. Kyk half skuldig oor my skouer of iemand my sien, want ek is nie seker hoe ver ons kontak met die kinders mag strek nie. Voor die bedjie sak ek op my hurke en begin saggies met haar praat. Sommer net woorde van hallo toe sy sonder waarskuwing skielik haar armpies wyd oopgooi asof sy my wil omhels en uit haar magie begin lag. En net daar, op my hurke voor ‘n ou bababedjie met ‘n gevlekte matrassie, verloor ek my hart op ‘n babatjie wat nie van my mense is nie. Weg is die versigtigheid en ek kan haar nie gou genoeg optel nie. So broos soos sy is, verbaas dit my tog hoe lig sy is toe ek haar teen my bors vasdruk. Almal van ons ken mos daardie gevoel van behoort as ons na ‘n lang ruk weg weer huistoe kom. Nou dit is presies hoe ek op daardie oomblik gevoel het. Ek wou bars van omgee en liefde vir hierdie klein mensie wat vir lewe en dood nou haar vuisie in my hare vasgedraai het. Elke keer wat ek haar wou neersit het sy haar beentjies styf om my lyf vasgeknyp en haar gesiggie in my nek gedruk. Ek kan nie nou meer onthou wie het die hardste gehuil toe ek haar eindelik moes laat gaan nie, ek of sy. Al wat ek geweet het is dat ek sou terug kom na die huis met sy verwaarloosde verfwerk toe, want vir my het dit pas ook ‘n reënbooghuis geword.

Sy was al waaraan ek kon dink die res van die dag en almal op kantoor moes hoor van die klein wonderwerkie wat my hart gesteel het. Natuurlik was daar die kyke en die versigtige opmerkings van “maar sy is nie van ons mense nie”. Daar was ook die oningeligtes wat wou weet of ek nie bang is ek kry ook VIGS nie. Niks wat niemand se kon my geesdrif egter demp nie. Oor die volgende paar weke het ek alles omtrent HIV en VIGS gegoogle. Ek wou alles weet. By die huis was my seun skaam jaloers oor die ophef wat sy ma oor ‘n ander kindjie maak, maar na ‘n druk en versekering hy is steeds nommer 1 het hy my gebabbel gelate aanvaar. My vriend het half ongemaklik en skugter in my opgewondenheid probeer deel. Ondersteunend, maar tog versigtig het hy vermaan – “is nie ons mense nie liefie, moenie betrokke raak nie, wie weet hoe lank sy gaan leef ….. jy gaan seerkry.” My ore was doof vir sy logika en waarskuwings, my hart het dan heeltemal oorgeloop van liefde.

Die volgende dag het ek gou in my etenstyd ‘n paar noodsaaklikhede vir Mandisa gaan koop en vroeg by die werk geloop om dit gou te gaan afgee. Sy het my dadelik herken en my weer gegroet met haar kenmerkende laggie uit die maag en die vuisie wat sy in my hare koek. Elke besoek en kuier het te kort gevoel en elke keer as ek moes gaan dan het ‘n stukkie van my hart by haar agter gebly. Ek wou haar huistoe vat, maar sy was reeds siek van VIGS en het 24 uur mediese sorg nodig gehad. Konstante diarree en brongitis, blaasinfeksie en toe eindelik as komplikasie van VIGS ook kanker in haar limfkliere. Party kuiers was beter as ander. Op die goeie dae het sy gelag en gespeel, op die slegte dae meeste van die tyd geslaap. Dan het ek met die slapende kind in my arms stadig maar seker weer met my Skepper begin gesels, Hom weer begin insluit in my lewe. Tot ek weer een oggend kon opstaan, in die spieël kon kyk en weet dat my lewe weer sin en doel het. Daarvoor was ek dankbaar. Ek was gelukkig en tevrede. En meeste van alles het ek weer hoop gehad. Nie net vir myself en my eie lewe nie, maar ook vir ons land en al sy mense. Deur dit alles heen het die band tussen my en Mandisa net sterker geword en die liefde meer. Dae wat ek vanweë gesinsverpligtinge nie by Mandisa kon uitkom nie het tannie Bettie my telefonies op hoogte gehou van hoe dit met haar gaan.

18 Julie 2010, ‘n koue Sondagmiddag kom tannie Bettie se oproep. Mandisa se kondisie het so versleg, hulle vat haar hospitaal toe. Niks kon my weghou nie en vir die res van die Sondag sit ek langs haar bed. Sy is onder verdowing en slaap die hele tyd, maar ek bid en smeek Liewe Jesus om haar seblief aan te raak, gesond te maak, te spaar. Sy raak nie beter nie en teen Woensdag is daar niks meer wat die dokters kan doen nie. Ek en tannie Bettie vat Mandisa terug reënbooghuis toe om haar so gemaklik as moontlik te maak. My hart is stukkend en tog is ek woedend. Hoe kan God dit toelaat? Hoekom het Hy Mandisa in my lewe gebring net om haar weer te vat? Hoe kan Hy so onregverdig en wreed wees? Waarom? Wat is die doel? Hierdie babatjie is so klein, haar lewe begin nou net, hoe kan Hy toelaat dat sy so ly? Magteloos. Seer. Stukkend. Rou. Beskryf nie eers naastenby al die emosies wat deur my gegaan het nie. So vreeslik, vreeslik seer. Ek wil haar nie laat gaan nie, maar ek wil haar ook nie so sien ly nie. Iewers in my se ‘n stemmetjie dat wonderwerke tog nog gebeur en dat sy beter sal raak….wonderwerke is mos nog moontlik…of nie? Hoe tel ek weer die stukke van my hart op? Sy wat ‘n splinternuwe betekenis in my lewe gebring het. Hoekom? Hoekom gebeur hierdie met my? Wat het ek gesondig om hierdie seer te verdien? Wat het Mandisa gedoen om hierdie lyding te verdien? Hoekom juis sy? Die onregverdigheid van die hele situasie kom steek soos ‘n groot knop in my keel vas.

Die volgende paar dae is dol en ek hardloop my dood tussen werk, huis en Mandisa. Ek is doodmoeg toe ek die oproep Vrydagoggend, 23 Julie 2010, net voor 10 kry. Ek moet kom…..dit is tyd…. In ‘n waas ry ek reënbooghuis toe. My voete voel soos lood en my hart klop senuweeagtig in my bors toe ek die paadjie na die bekende groen deur toe afstap. In die portaal loop ek my in tannie Bettie vas. Ek is nog nie te laat nie. Waar die huis gewoonlik ‘n miernes van bedrywighede is met harde stemme oral is dit vandag stil en ek hou my asem op soos ek met die gang afstap. “ Asseblief Here, help my hierdeur want ek weet nie hoe nie” is die woorde wat ek vir die hoeveelste maal vandag woordeloos hemel toe skree.
Mandisa is in dieselfde wit bedjie met dieselfde gevlekte matrassie waar ek haar die eerste keer ontmoet het. Behalwe die keer is daar geen regop ruggie nie, geen uitgestrekte armpies nie en geen lag nie. Sy le doodstil onder ‘n verslete geel kombersie, ogies toe en maak sagte kreun geluidjies. Weer op my hurke voor die wit bababed prewel ek weer sommer net woorde van hallo en streel oor haar wang. Sy draai dadelik haar koppie na my toe, lig haar handjie op en gee hierdie lang oumens sug. Die verpleegster se ek mag haar maar vashou as ek wil. Tog so versigtig tel ek haar op. Sy is so broos ek is bang sy breek. Haar asemhaling is vlak en vinnig, haar lyfie slap. Ek gaan sit in die stoel voor die venster met die lelike diefwering. My wange nat, my hart pyn letterlik en iewers in my kop bly iets klop. Asem, ek kry nie asem nie, want die seer druk my keel toe. “Asseblief Here, help my, help Mandisa, want ek weet nie hoe nie” skree ek weer woordeloos hemel toe. So met haar in my arms begin ek weer my vrae vir God vra, baklei weer met Hom, probeer kompromieë met Hom aangaan en dan smeek ek weer teen my beterwete in vir ‘n wonderwerk. Eindelik na vele ure van stoei met myself en God gee ek van moegheid en magteloosheid eindelik oor, aanvaar, berus en kalmeer ek. “Asseblief Here, kom haal haar maar, moenie dat sy meer ly nie” vra ek . Wanneer Mandisa se asempie in my nek eindelik stil geword het weet ek nie presies nie, want ek het haar vasgehou tot sy koud en styf begin raak het. Eers toe het ek haar saggies in die wit bababed met die gevlekte matrassie gaan neerlê. Haar toegegooi met die verslete geel kombersie. Weer op my hurke voor die bedjie gee ek haar ‘n laaste soen en vir oulaas huiwer ek weer in die kamerdeur. “Ag Here dis so seer, help asseblief” sug ek die keer saggies. Mandisa is weg. In die portaal vou tannie Bettie en haar engele my toe in hul arms en saam snik ons ons seer op mekaar se skouers uit. Ons drink soet tee met baie melk sonder ‘n woord. Ek groet , die paadjie kar toe voel oneindig lank. Net voor ek wegry kyk ek weer na die huis. Die reënbooghuis is weg, in sy plek staan ‘n afgeleefde, verwaarloosde huis met ‘n stukkende tuinhekkie. Mandisa is weg.

Ek ry seer, leeg en alleen in die skemer terug huistoe. PJ wag vir my by die hek. Hy se nie veel nie, hou my net vas en vra of ek okay is. Okay? Ek weet nie, ek voel dood. Dood soos Mandisa. My kind kom groet, loer ongemaklik na die trane op my wange en omhels my half verboureerd. Ek wil nie praat nie, ek wil alleen wees. Ek klim sommer met klere en al in die bed. Probeer my gedagtes skoon maak, probeer slaap, probeer vergeet….
Iewers deur die nag staan ek op, maak tee en gaan sit buite. Dis bitter koud, amper so koud soos die gat in my bors waar my hart vanoggend nog was. Die naghemel is pikswart , die sterre skitter soos yskristalle. Pas by my donker koue gemoed. En vir die eerste keer in 36 jaar is ek heeltemal leeg van binne. Geen vrae, geen redenasies, geen baklei, geen seer….daar is net niks. My siel voel dood en ek voel honderd jaar oud. En net daar op ‘n koue Gauteng winternag gebeur ‘n wonderwerk. (Ja, wonderwerke is tog nog moontlik.) Toe ek op my leegste is en daar niks meer van my eie wil, logika en sin oor is nie kom die Here en maak my weer stadig maar seker vol. Vol van verstaan, troos, antwoorde, dankbaarheid en genade. So vol dat ek steeds daarvan oorborrel. Skielik was God se plan in my lewe so voor die handliggend vir my oopgesprei dat ek net kon glimlag oor my eie dwaasheid. Mandisa was nooit bedoel as ‘n straf nie. Sy was bedoel as ‘n seën. ‘n Voorreg en ‘n eer. God moes my eers voorberei het deur al die verskeie ondervindings en ervarings in my lewe sodat ek eindelik waardig genoeg was om Mandisa te kon verdien. Deur haar kort lewetjie was sy bedoel as ‘n inspirasie en voorbeeld, maar ook ‘n waardevolle les in liefde. Hoe kan ek dit verseker weet? Maklik. Die grootste gebod in die Bybel is liefde en ek het nog nooit regtig die konsep van die gebod verstaan nie. Nou doen ek. Liefde word nie gekies nie, dit vrae nie vrae nie, redeneer nie, het nie beperkings, limiete, remme of grense nie. Beste van alles is dat die liefde blind is. Stokblind. Met liefde in my hart het kleur, siekte of “nie van my mense nie” glad nie meer saak gemaak nie. Sien die stem van liefde is ook oorverdowend hard. So hard dat dit soms al wat bedenkinge en logika is doodskree. Ook maar goed, want met al my baie vrae, wonder, redeneer en baklei sou ek dalk nooit die klop van liefde aan my hartsdeur gehoor het as dit nie so hard geskree het nie. Liefde is ook oorvloedig want hoe meer jy verniet weggee hoe meer kom terug en vul elke spasie in jou hart. Met soveel liefde wat my vul kan ek mos nie anders as om so baie dankbaar te wees nie. Dankbaar dat ek eindelik op ‘n plek kon wees waar die Here my kon gebruik. Dankbaar dat ek deel kon wees van so ‘n spesiale babatjie se lewe. Dankbaar vir dit wat Mandisa vir my beteken het. Dankbaar vir die verskil wat sy in my lewe gemaak het. Dankbaar vir die voorreg dat ek die een kon wees wat Mandisa in haar sterwensuur kon vashou en liefhê. Dankbaar dat haar lyding verby is. Dankbaar dat Jesus my deur hierdie seer ook dra. En so ongelooflik baie dankbaar vir my God se genade.
Is net deur Sy genade wat ek Sondag weer genoeg moed gehad het om die keer saam met PJ en my seun die reënbooghuis te besoek. Is met liefde dat ek kon kyk hoe PJ die kinders een na die ander aan sy bors druk met trane in sy oe. Is met trots dat ek kon kyk hoe my kind met die nuwe maatjies speel. Is met verlange dat ek weer voor die wit bababedjie met sy steeds gevlekte matrassie gaan hurk het. Is met hartseer wat ek weer in die kamerdeur gehuiwer het…….Dit is met verwondering dat ek in my gesin se oe kon sien dat die ageleefde, verwaarloosde huis met sy stukkende tuinhekkie nou ook vir hulle‘n reënbooghuis vol hoop geword het. Toe my kind vra wanneer kom ons terug en PJ antwoord “sommer gou” weet ek dat Mandisa haar naam gestand gedoen het: Sy het geluk aan almal gebring. Amen.