Subscribe by Email

Dag vir vermiste persone het ook op SA betrekking

“Met duisende mense wat in Suid-Afrika vermis word, waarvan ongeveer die helfte kinders is, is dit baie gepas dat Suid-Afrikaners vandag, op die Internasionale Dag vir Vermiste Persone, spesiaal in hul gebede dink aan diegene wat geliefdes vermis.

“Dikwels is die onvermoë om afsluiting te kry erger as om vrede te maak met die afsterwe van ‘n geliefde. Dit is hartverskeurend om weekliks die lang lys te sien van mense wat vermis geraak het,” sê ds. Theunis Botha, leier van die Christen Demokratiese party (CDP).

“Verslaggewers Sonder Grense sonder sekere lande uit waar mense spoorloos verdwyn het na hulle gearresteer is. Dikwels word hierdie mense vermoor. In Suid-Afrika kom dit voor of baie van die verdwynings na dwelmverwante ontvoerings herlei kan word waar meisies vir bordele ‘gewerf’ word.

“Die maatskaplike toestande in Suid-Afrika weerspieël ‘n gemeeskap van ‘vermiste’ ouers, selfs waar hulle onderdak met hul kinders deel. Hulle is geestelik afwesig wanneer hul kinders hulp en leiding nodig het. Ons het selfs die opkoms van ‘n nuwe generasie straatkinders gesien waar kinders verveeld buite casino’s rondhang terwyl die ouers hul verdienstes wegdobbel.

“Figuurlik gesproke kan vermiste ouers ook waargeneem word in die amok wat ANC-jeugdiges tydens die eerste dag van Julius Malema se verhoor aangerig het. Boonop is Malema self die produk van grootliks afwesige ouers.”