Subscribe by Email

DA se reaksie op haatspraak-uitspraak

In ‘n onlangse plasing het ek onderneem om die DA se standpunt oor die Julius Malema-haatspraakverhoor te plaas as die DA dit vir my in Afrikaans beskikbaar stel.
Die probleem het skynbaar ontwikkel omdat die media in hul dra van die standpunt die klem geplaas het op Dene Smuts se gebruik van die woord “wrong” om regter Lamont se uitspraak te beskryf. Die mediaverklaring is besonder regstegnies geskryf en sou moeilik wees om in “joernalistieke taal” aan leser weer te gee. Uit Volksblad, Die Burger en Beeld se elektroniese argiewe blyk dit ook dat dié koerante haar verklaring nie gedra het nie. Haar standpunt-inname het ook saamgeval met die standpuntinname van prof. Pierre de Vos,l wat skerp onder kritiek deurgeloop het.
Die DA het pas die Afrikaanse weergawe van SA Today aangestuur waarin die partyleier vir Smuts in die bresse tree oor haar kritiek op regter Collin Lamont se uitspraak.
Die saak word deur die ANC en die ANC-jeugliga op appèl geneem en die regsuitlegte wat nou gelug word sal volgens aanduidings uiteindelik deur die grondwetlike hof besleg word. Dit is moeilik om ‘n behoorlike vergelyking van Smuts se verklaring en Zille se nuusbrief dieselfde fokus te vind, en myns insiens kompliseer en selfs vertroebel Zille se uitleg die saak eerder as dat sy Smuts uit haar tameletjie help.
Die “probleem” wat in die gelykheidswet uitgewys word, kan ook na die grondwet self herlei word, en om ‘n baie goeie rede. Waar die grondwet die beperkings op die reg op uitdrukkingsvryheid lys (art. 16 (2) c, word die bedoeling juis herlei na “incitement to cause harm.” Dit sluit dus duidelik kwetsende optrede in. Regter Lamont het ook uitgewys dat dit saak maak hoe die groep teen wie dit gemik is dit ervaar. Sou dit nie so wees nie, sou blankes wat die k-woord gebruik kon argumenteer dat dit nie kwetsend bedoel is nie. Dis egter irrelevant, dit handel oor hoe dit aan die ontvangkant ervaar word. Dieselfde geld vir die aanstigting tot haat, wat in dieselfde subartikel aan die bod kom.
Dit is my eerlike opinie dat die poging om tussen haatspraak en kwetsende optredes te onderskei, ‘n onhoudbare presedent skep omdat verskillende mense verskillende sake as haatspraak en as kwetsend sal beskou. Dit sal ook nie vas bly nie. Om dus dit wat haatspraak behels soos ‘n Kode Napoleon te probeer lys, gaan problematies wees omdat iets wat nou nie eens kwetsend is nie, later haatspraak kan wees. Die k-woord het byvoorbeeld onskuldig begin. Baie bruin mense beskou die gebruik van die woord “kleurling” as kwetsend, terwyl baie amptelike vorms nog van mense verwag om hul ras as sodanig aan te dui.
Waar dit oor polarisasie gaan, is dit beter om eerder te veel te beskerm as om te min te beskerm.
Herman Toerien
Die verskil tussen kwetsende uitlatings en haatspraak
Ek wil dit onomwonde stel: kragtens Artikel 16 van die Grondwet is die frase “Skiet die Boer”, wat só sterk in Julius Malema se gunstelingliedjie na vore kom, wel haatspraak.

Dit word dus nie deur die reg tot vryheid van spraak beskerm nie. Hierdie reg, wat enige demokrasie ten grondslag lê, omvat nie die “verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit of godsdiens gegrond is en wat aanhitsing om leed te veroorsaak, uitmaak” nie (my klem).

As woorde hoegenaamd iets beteken, kweek “Skiet die Boer” in dié lied (en veral in die verband waarin die ANC-jeugliga dit sing) haat op grond van etnisiteit, en hits dit leed aan.

Waarom is daar dan berig dat die DA regter Colin Lamont se onlangse uitspraak in die Gelykheidshof, waarin hy bevind het dat dié woorde in elke verband “haatspraak” is, bevraagteken?

Dene Smuts, die DA se woordvoerder oor Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling , het die uitspraak as “opreg interessant en nuttig” beskryf.

“In die eerste plek dien dit as ’n goed gemikte hou wat ’n onverantwoordelike jong opsweper op sy plek sal sit. Niemand wat by sy volle positiewe is sal glo dat die jeugleier slegs nostalgies voel oor sy struggle-liedjies nie”, het sy gesê. “Geen uitlating wat tot volksmoord kan lei (soos in Rwanda), of vrees en angs kan inboesem (soos die lied Ama ’Ndiya) behoort kragtens die Grondwet se vryheid van spraak beskerming te geniet nie.”

Dit is die DA se standpunt in kort.

Ons kommer lê elders. Ons het ‘n probleem met aspekte van die Gelykheidswet van 2000 wat daarop aanspraak maak dat dit Klousule 16 van die Grondwet onderskraag.

Ons kernprobleem is die volgende: Die Gelyksheidswet verwater die Grondwet se omskrywing van “haatspraak” tot blote enige iets wat “kwetsend” is. Ons glo dat hierdie verwaterde omskrywing die reg op spraakvryheid verweer.

Kwetsende uitlatings is nie dieselfde as haatspraak nie. Die ware toets van ons verbondenheid tot ons vryheid van spraak is of ons wel steun verleen aan ander mense se reg om dinge te sê wat ons ontstig en aanstoot gee. As ons glo hulle het dit te ver gedryf, kan ons hulle weens naamskending dagvaar.

Ons ken almal die bekende aanhaling: “Ek stem dalk nie saam met wat jy sê nie, maar ek sal jou reg om dit te sê, tot die dood toe verdedig.” Dis baie makliker om dié woorde aan te haal as om hulle in die praktyk toe te pas.

Regter Lamont het binne die grense van die Gelykheidswet min keuse gehad as om die breë omskrywing van “kwetsendheid” toe te pas. Hy het selfs so ver gegaan as om te sê dat taalgebruik wat enige groep (veral ’n minderheid) “in die gees van Ubuntu” as kwetsend ervaar,’n skending van dié Wet is.

Ons staan hier voor ’n wrange ironie. Julius Malema het dit self opgesom toe hy gekla het: “Ubuntu word nou teen ons ingespan!” Wel, wat anders kon jy verwag? In ’n demokrasie waar almal gelyk is voor die reg staan, kan jy wette nie selektief inspan om jou vyande by te kom, maar terselfdertyd jouself daarvan te vrywaar nie.

Kwetsende woorde gee maklik aanstoot , maar dit moet nogtans deur die spraakvryheidsklousules in die Grondwet beskerm word, anders gaan politieke korrektheid binnekort bepaal wat “kwetsende” taalgebruik is. As ons daardie punt bereik sal daar nooit weer ‘n vastrapplek wees om vas te skop wanneer die regerende party wil bepaal wat ons mag sê of nie mag sê nie. Julius Malema het juis dít gesê: Ons bedoeling met dié wet was om dit te gebruik teen diegene wat kwetsend teenoor ons is. Nou word dit teen ons gebruik! Juis.

Toe ek getwiet het dat ek hierdie nuusbrief oor die “Haatspraak”-beslissing sou skryf, is gevra wanneer ek oor die Bees Roux-pleitooreenkoms gaan skryf.

Daar is ’n algemene gevoel dat ’n onreg gepleeg is toe Bees Roux tronkstraf ontduik het toe hy op strafbare manslag skuldig gepleit het en ingestem het om R750 000 te betaal aan die familie van die metropolisieman wat hy doodgemaak het. Dit het woede ontketen, veral omdat Robert McBride min of meer terselfdertyd tronkstraf sonder die keuse van ’n boete opgelê is weens dronkbestuur en poging tot regsverydeling. Soos gewoonlik het “ras” sterk in die bitsige onderonsies na vore gekom.

’n Pleitooreenkoms is ’n ooreenkoms in ’n strafsaak waar die aanklaer die beskuldigde ’n kans gee om skuldig te pleit – op ’n mindere aanklag – of op die oorspronklike strafregtelike aanklag met ’n aanbeveling van ’n ligter straf. Voordat die aanbod gemaak word, moet die aanklaer op grond van die bewyse bepaal watter moontlikheid daar is dat die oorspronklike aanklag in die hof sal slaag. Die slagoffer en dié se regsverteenwoordigers moet betrek word en instem tot die bepalings van die ooreenkoms. Dit moet oplaas ook deur die landdros of regter bekragtig word om te sorg dat die pleitooreenkoms nie ’n middel tot regsverydeling word nie.

Nogtans voel ek nie gemaklik oor pleitooreenkomste nie. Die berugste pleitooreenkoms in Suid-Afrikaanse geskiedenis is moontlik dié wat aan Glenn Agliotti, en sy huurmoordenaars wie vir Brett Kebble vermoor het, aangebied is. Dit is aangebied sodat die Staat die nodige getuienis kon kry om Jackie Selebi (die voormalige Polisiekommissaris) weens korrupsie skuldig te bevind en tronk toe te stuur. Dit lyk of die skaal van geregtigheid in die geval nie gebalanseer het nie. Ons strafregstelsel kon tog sekerlik genoeg bewyse versamel het om almal agter die tralies te laat sit? Is dié ooreenkoms aangegaan omdat die Mbeki-ondersteuner, Jackie Selebi, ’n teiken geword het tydens die politieke vete tussen Thabo Mbeki en Jacob Zuma?

Asgevolg van dié saak, en ander, bevraagteken ek die waarde van pleitooreenkomste, hoewel hulle ’n hegte deel van die strafregstelsel in talle wêrelddele uitmaak. In die Verenigde State word 90% van alle strafregsake blykbaar deur middel van pleitooreenkomste afgehandel. In Suid-Afrika is dit minder as 1%.

In die Bees Roux-saak het die familie van die oorledene besluit om die ooreenkoms te aanvaar, waarskynlik omdat hul broodwinner gesterf het. Dit het aanleiding gegee tot die onvermydelike insig dat ‘n beskuldigde in ’n moordsaak tronkstraf met genoeg geld kan vryspring.

Indien daar ‘n plek vir pleitooreenkomste in die Suid-Afrikaanse regstelsel is, moet sulke ooreenskomte billik toegepas word om die wanpersepsie te verhoed dat hulle die rykes bevoordeel.