Subscribe by Email

Curriebeker-uitspeelrondtes begin vorm aanneem

Met nog ‘n ligawedstryd oor in vanjaar se Curriebekerreeks is die Goue Leeus reeds seker daarvan dat hulle die ligafase gewen het. In die halfeindstryd, en as hulle deurdring, die eindstryd, sal die Leeus dus ‘n tuisvoordeel hê.

Die Haaie en die Cheetahs het ook reeds na die halfeindrondte deurgedring, maar hul plekke op die punteleer kan nog geraak word.

Die Leeus se laaste ligaverpligting is ‘n taaie – teen die Haaie in Durban wat nog in die tweede plek lê. Teen die tyd dat dié wedstryd plaasvind, sal die spanne reeds weet wat in die ander wedstryde gebeur het, en of die Haaie nodig het om vinger te trek om hul tweede plek te behou.

Die WP, nou in die vierde plek op die liga, is die enigste van die huidige top vier spanne wat nog in die ligafase uitgeknikker kan word. Die WP speel egter op hul tuisveld teen die Pumas, en Griekwas en die Blou Bulle sal nie veel hoop koester dat die Pumas in hul laaste Curriebekerwedstryd voor hulle by verstek gerelegeer word, ‘n haas uit die hoed sal kan pluk nie. Teoreties kan ‘n oorwinning sonder ‘n bonuspunt die WP nogtans in tamatiestraat laat beland.

Die wyse waarop die Pumas Vrydagaand met die Cheetahs gemors het, voor die Blikore in die doodsnikke die wedstryd en ‘n bonuspunt uit ‘n steenkoolmynskag kon beredder, sal die manne van Griekwas en die Blou Bulle ‘n sprankie hoop gee. As die Pumas in hul laaste groot wedstryd alles insit, en die WP weer wisselvallig vertoon, of die besoekers onderskat, kan die WP se Curriebekerdrome vanjaar vroegtydig reeds in Tafelberg se skadu begraaf word.

Wat die Bulle en Griekwas betref, sal hul laaste ligawedstryde reeds afgehandel wees voor die Pumas en die WP op die veld draf. Die Bulle speel op hul tuisveld teen die Luiperds, en sal hulself hard skop s hulle dié een laat glip.

Die Griekwas durf egter die Cheetahs in Bloemfontein aan, en dié wedstryd kan ‘n bielie wees. Nie net het Griekwas vanjaar reeds die Cheetahs in die Groot Gat omgedop nie, maar die Griekwamanne het ook reeds so met die Blou Bulle en die Haaie gemaak, en op Nuweland gelykop teen die WP gespeel. Dié span gaan beslis nie ‘n wit vlag inpak vir sy wedstryd teen sy buurman nie. Boonop sal die Griekwas, na die Cheetahs se broekskeur-vertoning teen die Pumas, hulself ‘n baie realistiese kans gun om die tuisspan in Bloemfontein om te dop.

En daarna word die finale lot op Nuweland gewerp.

Selfs al verloor die Cheetahs en die Haaie die komende naweek, kan die WP nie beter as die vierde plek vaar nie, en dit lyk dus of die Leeus en die WP die Vrydagaand daarna weer in Johannesburg gaan kragte meet – maar dan vir ‘n maak of breek. Om doodseker te maak dat die WP hoegenaamd deurdring, moet hulle boonop ‘n bunuspunt uit die Pumas uitgewurg kry. ‘n Oorwinning sonder ‘n bonuspunt kan beteken dat die Bulle en / of Griekwas nog gelyk op die punteleer kan breek. Die Bulle sal egter Vrydagaand teen die Luiperds ‘n reuse oorwinning moet behaal om beter netto-punte op die kerfstok te hê as die WP. Griekwas het ‘n oorwinning minder as die Blou Bulle en die WP op die kerfstok, en is op die netto-punteleer ook in die rooi.

Die Cheetahs, een ligapunt agter die Haaie in die derde plek op die punteleer, sal graag in hul laaste wedstryd plekke met die Haaie wil ruil. Kry die Cheetahs dit reg, beteken dit minstens ‘n tuis-halfeinstryd. Dit kan dan teoreties tot ‘n tuis-einstryd lei as die Leeus in hul halfeindswedstryd voor hul tuisskare glip. Maar eers moet die Cheetahs die naweek die omgesukkelde Griekwas onder die knie kry.

Herman Toerien