Subscribe by Email

Curriebeker: Naelbyt en krag

Die Haaie is stellig die Curriebekerspan wat die breedste glimlag na die naweek se eerste Curriebekerwedstryde van die seisoen. Die WP en die Leeus se lippies hang seker die langste.

In Bloemfontein het die Cheetahs met die Luiperds afgereken, en vroegseisien 5 punte ingeoes. Die Leeus het gesukkel om die Pumas – wat duidelik ‘n punt wou bewys oor die snoep behandeling wat hulle in die Superreeks gekry het – onder die knie te kry, en die WP en Griekwas het op Nuweland gelykop gespeel.

Daar word gereeld gesê daar is nie so iets soos ‘n swak Blou Bul-span nie, maar die Haaie het na ‘n besering- en Springbokstrooptog tog oor genoeg skietgoed beskik om vier drieë teen net een in te ryg. Om die Bulle met 35 – 16 te trap, rig ‘n waarskuwing aan die ander spanne met Curriebekeraspirasies.

Die Cheetahs se oorwinning sal eers na ‘n wedstryd teen ‘n sterker span beoordeel kan word, maar dit is ook duidelik dat gevestigde spelers nie lank ‘n prop op jonger talent sal kan hou nie. Volgende week kry die jonges hul kans teen die gekweste Blou Bulle.

Die WP kan nie skuil agter beserings en die nie-beskikbaarheid van die Springbokke nie. Dit is ‘n yslike bond met ‘n paar universiteite, en inheemse talent loop dik in ‘n bond wat nie skaam is om sy aansienlike tjekboek in te span om spelers in te koop nie. ‘n Bietjie meer mosies van vertroue in sy inheemse talent in te span, en die WP kan ‘n bond word met talentvolle spelers wat met die hart speel. Griekwas het juis van hierdie WP-talent wat ongebruik gelaat is bymekaar gemaak – en dié manne het ‘n punt om te bewys.

Die Cheetahs se skrik toe sy ster-losskakel Sias Ebersohn beseer is, is gou besweer toe die veelsydige Riaan Smit van vleuel na losskakel geskuif het, en groot impak gemaak het. In die tweede helfte is die span ontwrig toe al die plaasvervangers speelkans gekry het, en was die Luiperds die beste daaraan toe.

Herman Toerien