Subscribe by Email

Crusaders presteer

Wanneer die Crusaders en die Stormers Saterdag op die veld draf, span die Crusaders – wen of verloor – reeds ‘n stewige kroon oor ‘n baie moeilike jaar.
Soos die Kruisvaarders van ouds – by wie die Crusaders die inspirasie vir hul naam gekry het, het veggees ongewone prestasies ontlok.
Dis nie elke dag wat ‘n span wat nie ‘n enkele tuiswedstryd kon speel nie, derde in so ‘n taai reeks soos die Super 15 kom nie. Die Crusaders moes al hul wedstryde weg speel na ‘n verwoestende aardbewing dood en verwoesting in die Crusaders se tuisstad, Christchurch gesaai het.
Boonop sou die Crusaders waarskynlik tweede gekom het, was dit nie dat hulle punte in hul eerste wedstryd na die aardbewing moes deel, na die wedstryd afgelas is.
Boonop het die Crusaders ook ‘n paar gevoelige beserings op die lyf geloop: Israel Dagg, Sean Maitland and Richie McCaw.
Waarskynlik die donkerste oomblik vir die Crusaders op die veld was die skokkende vertoning van die skeidsregter Bryce Lawrence in die uitspeelwedstryd teen die Sharks. Volgens alle aanduidings sou die Crusaders selfs sonder Lawrence se ongevraagde “hulp” die Sharks heeltemal oor gewees het. Geen span met selfrespek wil danksy ‘n blapsende skeidsregter aan die wenkant wees nie. Dit troos darem dat die Sharks kort tevore die voordeel van ‘n ewe blapsende skeidsregter gekry het.
Terwyl die meeste Suid-Afrikaners Saterdag vir die Stormers sal duime vashou, sal baie tog die hoed hoog hou vir hierdie span wat vanjaar die skynbaar onmoontlike moes oorkom.