Subscribe by Email

Clivia – die trots Suid-Afrikaanse boslelie

Die statige inheemse boslelies pronk weer mooi hierdie maand en dit is geen wonder dat by beide versamelaars en tuiniers so gewild bly.

Die genus Clivia behoort aan die familie Amaryllidaceae, en bestaan uit die spesies Clivia caulescens, Clivia gardenii, Clivia miniata en Clivia nobilis. Van al die Clivia spesies kom Clivia miniata die algemeenste voor.

Verskillende variteite van Clivia miniata word aangetref. Clivia miniatavar. miniata se blomme is oranje of rooi. Clivia miniata var. citrina se blomme is geel of room van kleur. Verskeie kleurskakerings en kroonblaarvorme is reeds gekweek, waarvan sommige baie skaars met versamelwaarde is. Clivia Hirao (geteel deur dr Hirao van Japan) en Charl’s Green (geteel deur Charl Coetzee van Suid-Afrika) het groen blomme en het al R 26 000 gehaal op ‘n veiling teenoor gewone boslelies wat teen R 50 gekoop kan word.

Clivias benodig gefilterde sonlig en is daarom die ideale plant om in massas in skadu onder bome aan te plant.  Ook uitstekend vir pot- en huisplante.

Clivias moet in goed gedreineerde grond geplant word, floreer op bladvoeding en moet in die somer gereëld water kry. Aangesien Clivias rypgevoelig is, moet dit op beskutte plekke geplant word.

Gee plante gereëld bladvoeding met ‘n produk wat al die nodige voedingstowwe bevat. Blomvorming word aangehelp indien kalium en fosfaat ongeveer een maand voor blomtyd toegedien word (strooi ongeveer 10 gram korrelkunsmis per vierkante meter en gee dadelik daarna water; gebruik ‘n produk met baie kalium en fosfaat, maar min stikstof). Net na blomtyd kan ongeveer 10 gram per vierkante meter korrelkunsmis met baie stikstof, maar minder kalium, toegedien word.

Sluit aan by die cliviaforuim.co.za of gaan kyk by cliviasociety.org om by ‘n club aan te sluit

.clivia