Subscribe by Email

Cheetahs trap Rebels

Die Cheetahs het hul vierde agtereenvolgende oorwinning in die Super 15 behaal, deur die Melbourne Rebels op die Vrystaatstadion met sy splinternuwe oppervlak met 34 teen 16 te klop.

Die Cheetahs het vyf drieë gedruk en vir die eerste keer die seisoen ‘n drieë-bonuspunt behaal. Dit is kwalik denkbaar dat die Rebels amper die hele eerste helfte welverdiend voorgeloop het. Die Rebels het by tye heelwat beter weerstand gebied as verlede week toe hulle in die Haaitenk verslind is, en daarna nog twee spelers moes huis toe stuur wat in die span se bus bolle gerol het.

Die Cheetahs is tydens die opwarming voor die wedstryd ontwrig toe die span se instaan-losskakel, Riaan Smit, sy dyspier beseer het. Burton Francis moes instaan en het besluit om in die reënweer heelwat stewel in te lê – en gemengde welslae behaal.

Met die oorwinning het die Cheetahs tydelik die tweede plek van die Suid-Afrikaanse spanne op die punteleer ingeneem, slegs vier punte agter die Haaie wat egter ook reeds vier loslootjie-paseallapunte agter die blad het.

Vir die Cheetahs het Hennie Daniller, Raymond Rhule, Willie le Roux en Rayno Benjamin agter die doellyn gaan kuier. Francis het drie gekroon en ook ‘n strafskop deur die mikke gejaag.

Vir die Rebels het Caydern Neville ‘n troosdrie kort voor die einde van die wedstryd gedruk.

Al is al die Cheetahs se drieë deur die agterspelers, en veral op die punte gedruk, het die voorspelers ook gekook.

Die Cheetahs kon nie veel uit die wedstryd wys word nie, behalwe dat die span selfs met ‘n nat bal beter met die bal in hand vaar as om dit weg te sool.

Die Rebels was ongelukkig nie sterk genoeg om werklike ‘n toets te wees nie – trouens, die Cheetahs se vier oorwinnings was teen van die reeks tot dusver se apoestertjiesspanne. Met ‘n paar krukkerlysbrigadelede op pad terug, en met instaanspelers soos veral die bloedjong slot Lood de Jager wat man en muis verras, kan die Cheetahs vanjaar diep spore trap.

Herman Toerien