Subscribe by Email

Cheetahs stu voort

So byna het die Cheetahs weer ‘n neerlaag uit die kake van ‘n oorwinning geruk. En weer was dit ‘n doellose mamparraskop wat punte teen die Cheetahs beteken het.

Vir ‘n groot deel van die seisoen lyk dit of die Cheetahs rustyd verklaar, en dan ‘n eerstehelftevoorsprong probeer verdedig. Dis so anders as die span wat die afgelope paar jaar in wedstryde en op die ligas, inhaalrugby gespeel het.

Nogtans, die Cheetahs het teen die voorlopers op die punteleer gelykop gespeel, en klim steeds op die Curriebekerpunteleer, en lê nou derde. Boonop het die Cheetahs van die deelnemende spanne teoreties die maklikste oorblywende ligawedstryde – weg teen die Pumas en tuis teen Griekwas.

Maar… die Pumas het vanjaar weliswaar sleg teen die Cheetahs verloor, maar andersins vriend en vyand verras. Die Cheetahs se ekskursie Mpumalanga toe gaan dus dalk klippe kou behels. Dis nie net vir punte gaan haal nie.

En die week daarna sal Griekwas, desperaat om vyfde op die punteleer te kom, die Cheetahs weer probeer ore aansit.

Die Cheethas se jong ster, Johan Goosen, is Saterdag met ‘n draagbaar van die veld af, en wat die ringkoppe gaan doen as hy nie dadelik kan speel nie, is nie so ‘n uitgemaakte saak nie. Sias Ebersohn is ‘n skitterende losskakel wat seker in die meeste provinsiale spanne sal instap, maar die doellose skoppe wat die opponente kans gee om terug in die wedstryde te kom, kan dalk sy tol eis. Die Cheetahs het dan ‘n paar opsies – of die veelsydige Riaan Smit kom as losskakel terug, of Tewis de Bruyn speel losskakel en Smit keer terug na die bank toe. Die speelkans wat Smit vanjaar op losskakel gekry het, het die broodnodige vonk verskaf.

Die Cheetahs sal nie graag die seisoen wil onthou as die beste pikkieboelie nie. Ongelukkig vertel die statistiek hierdie verhaal met die Blikore se oorheersing met punte aangeteken en drieë opgestapel terwyl die span nogtans die helfte van sy wedstryde verloor, of gelykop gespeel het. Beide die WP en die Blou Bulle wat na die Cheetahs op die punteleer lê, het meer wedstryde as die Blikore gewen. Die Cheetahs het in vanjaar se Curriebekerreeks reeds 440 punte opgestapel en 48 drieë ingeryg. Die Goue Leeus, met 401 punte, is die enigste ander span wat in vanjaar se kompetisie reeds meer as 400 punte kon aanteken, net – net met 401. Met 47 drieë blaas die Leeus ook in die Cheethas se nekke, en dié twee spanne laat die ander in hierdie afdeling soos stofpoeftertjies lyk. Die aantal drieë teen die Cheetahs – die meeste onder die top vier, verklap ook die Blikore se vermoë om die pikkies te boelie. Maar dis nie teen die pikkies wat in die uitspeelrondtes kragte gemeet word nie.

Die Cheetahs het op die oomblik moontlik die mees gebalanseerde span wat die bond in jare opgelewer het. Vanjaar moet dus die Vrystaters se jaar wees as hulle Curriebekersjampanje wil proe, maar dan sal die skopgogga doodgeslaan moet word en die probleem van wiele afval in die tweede helfte besweer moet word.

– Herman Toerien