Subscribe by Email

Cheetahs sleep Haaie op droë grond uit

Vyf ligapunte was wat die Cheetahs nodig gehad het, en vyf punte is wat hulle gekry het deur vyf keer agter die Haaie se doellyn te gaan kuier in hul jaagtog om ‘n vyftigtal teen die piesangboere op te stapel.
Dit beteken egter nie die Haaie het nie opgedaag nie – die besoekers het self vier keer die Cheetahs se doellyn gebreek, en danksy hierdie bonuspunt bly die Haaie een punt op die punteleer voor die Blikore.
Hoewel die kantman Lappies Labuschagne as man van die wedstryd aangewys is, is dit die bloedjong losskakel Johan Goosen wat die telbord momentum gegee het. Hy het benewens ‘n lang skepskop, en skerpskutterwerk pale toe, ook vir sy eie drie deurgenael na hy vlymskerp gebreek het.
Boonop het die Cheetahs onverwags ‘n buffertjie bo hul naaste teenstanders gekry toe Griekwas teen die Pumas vasgeval het. Griekwas het darem twee ligapunte uit die wedstryd beredder deur vier drieë aan te teken en met net drie punte die onderspit te delf. Dié vyf punte wat hulle hierna voor die Bulle was, verseker dat die Blou Bulle, selfs al wen hulle vandag met ‘n bonuspunt teen die WP, nog ‘n week moet wag om kans te kry om Griekwas dalk verby te steek.
Met vandag se sege teen ‘n grote het die Cheetahs gewys dat hul vroeëre oorwinning oor die WP nie ‘n vloekskoot was, en dat die span bloot deug om die kleintjies behoorlik uit te looi nie. Veral verblydend is dat die span daarin kon slaag om ‘n amperse drieëfees teen ‘n grote te beleef – iets waarmee die Cheetahs vanjaar klippe gekou het as die opponente stywe teenstand bied. Hulle het hul kanse om die halfeindstryd te haal baie woema gegee en die span kan nou begin beplan om tuisvoordele te probeer beding.
Tot verdere kennis bly die Leeus se posisie onaantasbaar. Dié span lyk wel soms of die wiele wil loskom, maar die stand doer bo op die ligabord vertel ‘n storie op sy eie.
Herman Toerien