Subscribe by Email

Cheetahs skraap deur

Witbank mag dalk nie meer Witbank wees nie, maar as die Pumas eers ysterklou in die grond slaan, bly dit dieselfde – groot spanne kou klippe en sweet bloed.

Die Cheetahs sal self eerste in die tou staan om te erken dat hulle gelukkig was om met hierdie ekskursie ‘n bonuspunt-oorwinning teen die geel-kaart-uitgedunde Pumas raakgeboor kon kry.

Vooraf is wyd berig dat die Cheetahs in hul oorblywende twee wedstryde waarskynlik die maklikste taak van al die voorloperspanne het. Daardie boodskap het duidelik nie by die Pumas uitgekom nie, en dit sou Griekwas ook meer vasbeslote maak om volgende naweek die Cheetahs ‘n tweede keer in die reeks aapstert te gee.

Vir die grootste deel van die wedstryd, en ook tot enkele minute voor die einde, het die Pumas die voortou op die telbord geniet. Twee doodsnik-drieë deur die besoekers het die wedstryd nie net uit die vasberade tuisspan se hande geruk nie, maar ook die Cheetahs die broodnodige bonuspunt vir vier of meer drieë besorg.

Die tuisspan moes vir die soveelste keer dié seisoen met ‘n enkele ligapunt vir ‘n neerlaag van 7 punte of minder tevrede wees.

So ongelooflik soos dit mag klink, was hierdie bonuspunt-oorwinning van die Cheetahs dalk nie genoeg om ‘n plek in die uitspeelrondtes te verseker nie, laat staan nog tuiswedstryde. Beide die Haaie in die derde plek en die WP in die vierde plek kan die Cheetahs nog met twee gewone oorwinnings verbysteek, terwyl die Blou Bulle twee vyfpunters nodig het om die Cheetahs heeltemal uit verdere deelname te boender mits Vrystaat weer teen Griekwas sneuwel.

Die Cheetahs kan egter al hierdie sommetjie-makery nutteloos maak deur volgende Saterdag met hul omgesukkelde buurman af te reken.

Die Cheetahs se opsies om dit op die veld self reg te kry, is beperk. ‘n Wedstryd van taktiese skopwerk is buite die kwessie omdat die Cheetahs in hierdie afdeling eerder die opponente as hulself bevoordeel en al verskeie paselladrieë dié seisoen so afgestaan het, of hulself minstens onder reuse druk geplaas het. Griekwas is ook goed toegerus om teenaanvalle te loods.

Ten spyte van verskerpte pogings deur die afrigters kon die Cheetahs ook nog nie heeltemal die spook om besit in kontaksituasies af te staan te bowe kom nie. Toegegee, inkonsekwente skeidsregtersvertolkings frustreer ook die Blikore. Boonop speel die Cheetahs sonder die beseerde Coenie Oosthuizen, wat in verskeie afdelings van die spel ‘n reuse verskil maak. Om met uitgewerkte bewegings drieë in te ryg het tot dusver ook nog hoofsaaklik net teen die klein spanne gewerk, en in die Cheetahs se droom-vertoning teen die WP op Nuweland – tot kort voor rustyd. Volgens die rugbykenners anderkant die Wingerdgordyn was die WP in daardie eerste helfte egter pateties swak, eerder as dat die Wit Tornado op sy kop was. Maar nou ja, elke seisoen het die WP volgens daardie eenogige sportskrywers ook die Curriebeker gewen nog voor die eerste bal van die reeks afgeskop is, en tel ‘n stywe arm in die gesig as ‘n pragtige laagvat.

Kortom, by gebrek aan ‘n behoorlike vermoë om veilige rugby te speel laat dit die Cheetahs met geen ander opsie nie as om Griekwas met die bal in die hand oorhoeks te probeer hardloop en ‘n sy eie kant van die telbord aan die rol te hou nie. Griekwas sal wel maniere vind om die telbord vir die besoekers aan die rol te hou, en dit kan ‘n baie opwindende wedstryd word.

Maar eers moet Griekwas vandag op sy tuisveld die wedstryd teen die Blou Bulle agter die blad kry. Met die OP-Kings wat lyk of hulle die Eerste Liga kan wen, en die politieke druk om hierdie span te verhef, kan die versoeking groot word om die OP en Griekwas in volgende jaar se verkleinde Curriebekerkompetisie te ruil. In dit egter die Blou Bulle, en nie Griekwas nie, wat in die sesde plek beland, sal sulke denke in die doofpot wees.

Afgesien daarvan dat Griekwas vandag die Blou Bulle in Kimberley se groot gat sal wil inspeel, sal baie rugby-oë ook op die Goue Leeus se wedstryd teen die W P in Johannesburg gevestig wees. Hierdie kan ‘n naelkouwedstryd wees, en voorspellings vooraf kan ‘n man met eier in die gesig laat.

Herman Toerien