Subscribe by Email

Cheetahs se sterte punt in die wind

Soms moet die bal ook reg spring. En Saterdagoggend Suid-Afrikaanse tyd het die ovaalbal by wyse van spreke vir die Cheetahs reggespring – twee paselladrieë, en die opponente se skerpskutter wat skeef korrel en Johan Goosen wat weer sy visiere ingestel gekry het.

Hieruit moet die Cheetahs nou selfvertroue kry dat Cheetahrugby nie net hul sterkpunt is nie, maar ook wedstryde kan wen.

En daardie wete het in die wedstryd weer ontbreek. Met ‘n voorsprong van 30 – 7 het die Cheetahs probeer verklaar, maar mamparra-skopwerk van die Cheetahs, en die Highlanders wat weer op hul voete gekom het, het nog drieë ingeryg. Goosen se twee stelskoppe na lemoentyd het gemaak dat die Highlanders nie werklik kon opvang nie, en moes die aftog met 36 – 19 blaas. ‘n Mens kan maar net hoop die Cheetahs huil nie later oor die moontlike bonuspunt wat verlore gegaan het nie.

Slegs die Cheetahs se afrigters sal die “logika” daarvan verstaan om balbesit vir opponente wat die bal sterk kan dra, te skop. Selfs die rugbyskrywers wat so getrou geskryf het oor “skop vir die hoeke” en “plaas die opponente onder ruk” se penne hieroor het stilgeraak – daarvoor het Gio Applon en ‘n string puk aanvallers juis vanuit daardie hoeke nou al lank genoeg gesorg.

En ‘n lynskop wat nie die grenslyn haal nie is sommer ‘n groter bonus, want dan is die doellyn nader.

Maar alle eer aan die Cheetahs – hulle sou nie die paselladrieë gekry het as hulle nie goed, en met selfvertroue gespeel het nie.

In Cheetahland brand die vreugedevure hoog dat Johan Goosen weer kookwater is, en dat Heinrich Brüssow weer kan wikkel.

Ten spyte van die groot loesing teen die Chiefs, het die Cheetahs in die eerste deel van daardie wedstryd, en die laaste deel van die kragmeting teen die Haaie getoon hulle kan by enige span in die Super 15 kers vashou.

Maar die Cheetahs gaan nie in elke wedstryd paselladrieë kry nie, en hieroor sal die Cheetahs hard moet besin. D ie X-faktor…

Die X-faktor sit heel moontlik op die bank, in die vorm van Riaan Smit. Hy het hom al in byna enige posisie in die agterlyn bewys, maar word beoordeel aan die hand van enkele minder suksesvolle vertonings op losskakel, en ‘n paar blapse op heelagter. Tog is hy naas Goosen waarskynlik die enigste speler wat onder die afrigterskap van Hawies Fourie die Cheetahtrui oor die kop kon trek en ook puik wedstryde op losskakel speel. Maar met Goosen op sy kop, behoort True Blue minstens van die bank af ingespan te word om slaankrag te verleen waar die flair om gapings te slaan ontbreek. Smit is ‘n spelbreker soos min, en laat spelers soos Raymond Rhule tot hul reg kom.