Subscribe by Email

Cheetahs se losskakeldinge

Daar is stellig niks mee verkeerd om Sias Ebersohn as Cheetahlosskakel te kies nie. Al staan dit nie heeltemal soos ‘n paal bo water dat Naas Olivier nou die NaasBeste is nie.
Volgens aanduidings gaan Olivier die trekpas kry in ‘n taktiese skuif om die Cheetahs meer slaankrag agterlangs te gee.
Maar dan die groot maar…
Is die Cheetahs se geneigdheid om balbesit in die opponente se snellers se keelgatte af te skop, en dan te moet bontstaan op die verdediging werklik Naas se skuld?
Daar is een Naas as hy vir Griekwas speel, en ‘n ander as hy vir die Cheetahs uitdraf. Boonop is hy lank nie die enigste Cheetah wat wedstryd na wedstryd pasellabesit aan die opponente besorg nie. Verder, vir Griekwas het Naas die dienste van Bjorn Basson gehad, en dié tweetal het die kuns vervolmaak om dwars-hangskoppe vir dié sneltrein te loods, wat Basson uit die lug kon pluk en agter die opponente se doellyn kon gaan plant. Basson het ‘n ruk geneem voor die Cheetahkeurders hom in die oog gekry het, en kort daarna het hy Bloubulland toe verkas.
Kortom, as spelers onder instruksie is om balle weg te sool, is dit die man wat die vrot opdragte gee wat die trekpas moet kry.
Toegegee, hoe later dit in die seisoen raak, hoe minder skoplustig is die Cheetahs, maar ai, net soos ‘n mens regskuif vir wenrugby, is daar weer a-la-pasellabesit ‘n drie onder die Cheetahs se pale.
Dié keer het die Cheetahs na die modderbad in Durban suiniger sool ingelê, en amper-oorwinnings behaal. Teen die WP het selfs verdedigende skopwerk gelol, en Naas het twee keer teen opponente vasgeskop – in ‘n wedstryd waar verskeie kere vir onkantspel geblaas is.
Sias is op sy beste ‘n wedstrydwenner, en as hy ook bietjie bestendigheid kan inbou, kan hy ‘n staande bate van die Cheetahs wees. Hoe goed sy selfvertroue is na afrigter Naka Drotské hom verlede jaar nog met die houtoog aangekyk toe oor die losskakeldroogte in die Vrystaat uitgewys is.
Sias is moontlik net daardie titseltjie meer effektief om soos die meester, Kennedy Tsimba, ‘n speler op volspoed in ‘n gaping in besit te stel. Die voorbehoud is natuurlik dat die speler wat die gaping slaan, se eerste gedagte moet wees om die verdediging oop te kloof, en nie om ‘n opponent uit te soek vir wie die bal geskop kan word nie.
Sias, as hy gekies word, kry sommer ‘n groot kans om sy staal teen die wonderkind, Elton Jantjies, te toon. Jantjies is moontlik effe van stryk, maar spelers wat gepoer-poer het, het al dikwels wedstryde teen die Cheetahs gebruik om hulself reg te ruk.
As Naas die trekpas kry, sal Drotské ook weer sy oog oor die diamantgrens moet werp vir talent. Griekwas durf nie die indruk ontwikkel van ‘n Cheetah-stiefkind wees nie. Die Griekwas se spel, ten spyte van min geld en ‘n kleiner bevolking, bly verstommend, ‘n les vir ander spanne wat huursoldate hoër ag as tuisontwikkelde talent wat met die hart speel. Kortom, Cheetahs kan nie bekostig dat iemand se hart uit die spel geruk word nie – iets wat heel maklik kan gebeur as die gereelde storms in bestuursgeledere ‘n maatstaf moet wees. – Herman Toerien