Subscribe by Email

Cheetahs pure ramkatte

Die Cheetahs keer huis toe na seker hul mees suksesvolle toer na Doer Onder, maar seker ook die ongelukkigste. Veral oor die naelskraapse vasval teen die Brubies en die stiefregter, sal lank gewonder word wat sou wees as as nie verbrande hout was nie, maar kolle op ‘n cheetah.

Teen die Crusaders het die Cheetahs ook ‘n punt uit die wedstryd gewurg, teen die Rebels koning gekraai, en toe die Hurricanes na ‘n aanvanklike groot agterstand soos ‘n orkaan getref.

Miskien het iemand die Cheetahs in die ore gaan fluister ‘n sekere Vrystaatse politikus uit Namibië is onder ‘n Hurricane -skrumpet – maar seker darem nie want niemand is op ‘n draagbaar van die veld nie.

En om die Hurricanes met ses drieë teen vier in Wellington te kan klop, beteken enige span behoort nou cheetahvoet vir die Blikore en diamantmanne te loop.

Op Suid-Afrikaanse bodem het die Cheetahs teen die Leeus ook ‘n nederlaag uit die kake van ‘n oorwinning geruk, maar dit lyk of die Cheetahs nou weet om nie sommer na rustyd te verklaar nie. Dis juis nou die Leeus wat voorlê en die Cheetahs sal op hul tuisveld wil wys dat hulle hul tuisskare ‘n vyfstervertoning skuld. Die geleentheid hiervoor is op 7 April om 3-uur in die Vrystaatstadion. Wie aspris van dié stryd van die groot katte wegbly, koop vir hom ‘n vaalboskat in ‘n sak. In dié stadium lyk dit nie of Juan Smith sy terugkeer dan sal maak nie – maar die Cheetahs het ook al opgehou om ‘n gans anders span te wees as Juan nie speel nie.

Die Cheetahs is nou voor die Leeus op die Super-punteleer, nadat die Crusaders die Leeus in Johannesburg getroef het. Dat die Leeus ‘n wedstryd minder agter die blad het, is misleidend, want die Cheetahs en die Haaie is die twee Suid-Afrikaanse spanne wat nog nie die vier pasellapunte vir ‘n loslootjie weg het nie.

Herman Toerien