Subscribe by Email

Cheetahs en Leeus suiwer lug oor Cats

Die Vrystaatse en die Leeus se rugby-unies het opnuut bande gesmee en op onderlinge samewerking ooreengekom. Die olyftakkies strek egter nie tot die rugbyveld nie, waar die twee spanne mekaar die naweek op Ellispark pak.

Die Leeus was ongelukkig omdat hulle in weerwil van ‘n onderlinge ooreenkoms tussen verlede jaar se Super-spanne, deur die Cheetahs die rug toegekeer is en die Leeus vanjaar nie aan die Superreeks sal meedoen nie. Die Cheetahs was ook onwillig om die Leeus in ‘n herskepte Cats-span te akkommodeer.

Tydens ‘n gesprek in Johannesburg tussen Lindsay Mould, president van die Vrystaatse Rugby-unie, Harold Verster en Kevin de Klerk, president van die Leeus is moontlike ongelukkighede en onsekerhede en ook toekomstige samewerking bespreek.

Die samespreking het op ‘n baie openhartige en aangename wyse plaasgevind en dit was soos twee ou rugbyvriende wat met mekaar kon gesels het oor onsekerhede en

die pad vorentoe, lui ‘n verklaring wat deur die Cheetahs uitgereik is.

Die Vrystaters het aan De Klerk hul situasie rondom onlangse gebeuregestel en dat hulle die Leeus steeds ondersteun soos ooreengekom is. De Klerk het die Cheetahs se standpunt onvoorwaardelik aanvaar en onderneem om eersdaags Bloemfontein te besoek om ook sy goedgesindheid teenoor hierdie provinsie te betoon.

Die ongemaklikhede van die voormalige streekspan, die Cats is ook in diepte bespreek. Daar is verwys na ‘n tyd toe Vrystaat in hierdie bedeling die kort lootjie getrek het en daar is besef dat hierdie stelsel van samesmelting tussen die Leeus en die Cheetahs as die Cats nie prakties is nie. Die twee unies moet mekaar op die pad vorentoe beter op ander wyses sal ondersteun en bystaan.

Herman Toerien