Subscribe by Email

Cheetahs en die Curriebeker

Die Cheetahs se Curriebekerkanse vanjaar hang meer van die spelers se ingesteldheid as vermoëns af.

Dit is vanjaar goed gedemonstreer toe verlede jaar se Curriebekerkampioene, die Leeus, die Super 15-reeks se houtlepel opgeraap het.

Die Cheetahs het in ‘n stadium in die Superreeks in die Haaie se nekke geblaas, maar het toe wedstryde met mening begin wegskop, nadat die skopsiekte eintlik die span die hele seisoen geteister het.

Toegegee, die Haaie was toe onkeerbaar, hoewel die verloorslag teen die Leeus ook getoon het hoe belangrik dit is dat spelers se koppe reg aangeskroef moet wees.

Wat spelers betref, hét die Cheetahs die mannekrag om hulle behoorlik te laat geld. Die span sal waarskynlik sy eerste drie ligawedstryde sonder sy grootste wedstrydwenner, Johan Goosen, moet klaarkom, maar die twee luitenante, Riaan Smit en Sias Eberson is spelers wat kán as onoordeelkundige “taktiese” skopwerk net nie ingespan word nie.

Is Coenie Oosthuizen ook weer beskikbaar, kan die byle begin huil.

Die Cheetahs het in die losvoorspelerposisie ongelooflike diepte, en bereik spelers soos Frans Viljoen, Kabamba Floors en Boom Prinsloo hul topvorm, gaan spelers soos Davon Raubenheimer en Lappies Labuschagne hul sokkies hoog opgetrek moet hou om saam met Heinich Brüsssow die opponente dronk te speel. Heinrich sal ook weens ‘n besering ‘n wedstryd of twee uitsit, en dan onkeerbaar wees om sy plek in die Springbokspan te herwin. In die wedstryde teen spanne soos die Haaie en die Bulle sal die swaarder losvoorspelers waarskynlik voorkeur kry om die opponente se voorspelerkrag so doeltreffend as moontlik te probeer neutraliseer.

As die Cheetahs die afgelope Superreeks iets bewys het, is dit dat daar nie meer twee Cheetahspanne is nie – een mét, en een sonder Juan Smith. Adriaan Strauss het hom as ‘n uitstekende kaptein bewys.