Subscribe by Email

Cheetahs – Lions – dalk die mooiste wedstryd van die seisoen?

Wanneer die Cheetahs en die Lions mekaar Saterdag in ‘n Super-wedstryd beetpak, gaan die hare waai. Die span wat die onderspit delf, kry voorlopig die reeks se houtlepelstatus, maar veel meer is op die spel.
Die joernalis wat die komende stryd ‘n kattegeveg genoem het, ken nie katte nie. Dis nie kietsies met naels nie, dus groot katte wat brul. Beide spanne is in wisselende mates ongelukkig dat hulle vanjaar nog nie die knoop teen ‘n grote kon deurhaak nie, en hiervoor was daar ook elke keer versagtende omstandighede.
Beide spanne het ook veranderings aan hul spanne aangebring vir hierdie tweestryd, en dié veranderings is op die oog af daarop gemik om die gapings te vat, en die rieme neer te lê doelpale toe. En ja, die Cheetahs moet kennis neem dat die Lions James Kamana op heelagter in die beginspan ingesluit het. Die boodskap is duidelik: Volhard met jul mamparra “taktiese” skoppe in die teenstanders se keelgatte af, en kyk hoe julle al die gate toegestop gaan kry.
Die Cheetahs, op hul beurt, het besluit sy losskakel en instaankaptein, Naas Olivier is nou die naasbeste en die belowende Sias Ebersohn in die nommer tien-trui gekies. Griekwas kan ook nie langlippie trek en verdeeldheid in die span veroorsaak nie, want Riaan Viljoen sal vir die Cheetahs vanuit die laaste vesting strooptogte loods. Viljoen is self ‘n yster met ‘n loodpoot wat langafstandskoppe deur die mikke kan jaag, en die Lions sal nou met skoonmaakwerk van naby hul doellyn moet seker maak – Viljoen is lief om sulke pasellabesit met sierlike skepkoppe te lanseer. En vir afwisseling suiker hy sommer self deur doellyn toe.
Die twee spanne weeg fisies so goed teen mekaar op, en is ewe honger vir ‘n oorwinning, en dus kan die onbekende faktor, die spring van die bal, ‘n windskeef skop wat nie die teiken tref nie, ‘n besering – die deurslag gee. En die span wat die wit vlag vroegtydig hys, kan maar weet ‘n groot loesing is sy voorland.
Beide spanne het ook volop skop op die bank, wat sal verseker dat die span wat enduit voluit speel, die vars bene en vaardighede daarvoor sal hê.

Cheetahs:
15. Riaan Viljoen, 14. Philip Snyman, 13. Robert Ebersohn, 12. Andries Strauss (k), 11. Ryno Benjamin, 10. Sias Ebersohn, 9. Sarel Pretorius, 8. Ashley Johnson, 7. Philip van der Walt, 6. Heinrich Brussow, 5. Wilhelm Steenkamp, 4. Martin Muller, 3. WP Nel, 2. Ryno Barnes, 1. Coenie Oosthuizen
Substitutes: 16. Skipper Badenhorst, 17. Kobus Calldo, 18. Kabamba Floors, 19. Francois Uys, 20. Tewis de Bruyn, 21. Naas Olivier, 22. Fabian Juries

Lions:
15. James Kamana, 14. Lionel Mapoe, 13. Waylon Murray, 12. Doppies La Grange, 11. Michael Killian, 10. Elton Jantjies, 9. Rory Kockott, 8. Warren Whiteley, 7. Josh Strauss, 6. Derick Minnie, 5. Franco van der Merwe (k), 4. Wikus van Heerden, 3. Patrick Cilliers, 2. Bandise Maku, 1. JC Janse van Rensburg
Substitutes: 16. Martin Bezuidenhout, 17. Kevin Buys, 18. Michael Rhodes, 19. Cobus Grobbelaar, 20. Michael Bondesio, 21. Burton Francis, 22. Jaco Taute – Herman Toerien