Subscribe by Email

Cheetahs – julle dorings!

So groot soos die Proteas se oorwinning oor Bangladesj, so verrassend is die Cheetahs se eerste Super 15-oorwinning, en dit Doer Onder teen die Waratahs wat hulself as ernstige aanspraakmaker op die troon beskou.
En nie sommer ‘n naelskraapse oorwinning nie – ‘n behoorlike oorwinning van 23 – 3.
Die reeks sal al heelwat verdere gevorder wees, dan sal nog om die braaivleisvure kopgekrap word oor wat dié keer die beste uit die Cheetahs gehaal het: Om ‘n slag behoorlik weg te kom van die rugbypolitiek tuis wat maar met die manne se koppe smokkel? Het die Waratahs net ‘n afdag gehad nadat hulle te vol selfvertroue op die veld gedraf het? Het die Cheetahs nou baie gouer in die seisoen as gewoonlik ontdek rugby is ‘n spel van die bal dra en nie mamparraskoppe nie? Was die woema van die plaasvervangingsbank onkonvensioneel maar nommerpas?
Die baie hanteerfoute van die tuisspan in gure omstandighede is dalk deel van die verhaal, maar volpunte aan die Cheetahs wat ‘n week gelede nog self op hierdie terrein sleg drooggemaak het. En verdediging …dit is ‘n hele paar punte werd.
En natuurlik Heinrich Brussow wat nou na ‘n lang skeet weer kookwater is. Gewoonlik maak een swaeltjie nie ‘n somer nie, maar die Cheetahs het in die verlede nogal geblyk twee verskillende spanne te wees – een met Juan Smith, een sonder Juan Smith. Nou het hulle gewys hulle kan sonder Smith die pap steeds lekker dik aanmaak.
Die Cheetahs het nou ook vroegtydig ‘n waarskuwing aan hul toekomstige teenstanders gerig dat dit ‘n span is wat selfs teen sterk spanne teen die einde kan oorheers, anders as tot dusver dié seisoen toe die knieë teen die einde lammerig begin raak het. Die slim keuses met die plaasvervangerbank het stellig ‘n rol gespeel, en sal ook ander spanne noop om te herbesin as hulle nie teen die einde dronk gehardloop wil word nie. – Herman Toerien