Subscribe by Email

Cheetahbank kan opwindende lanseerplatform word

Met die slot Andries Ferreira wat weer slaggereed begin word, lyk dit of die plaasvervangerbank die Cheetahs se belangrikste aanvalswapen kan word – wat die voorspel betref in elk geval.
Is Frans Viljoen ook weer reg, begin die begin-agtal ‘n kopsorg vir die Cheetahbreintrust word, want die bond het vanjaar ‘n goeie arsenaal losvoorspelers, en onverwags skielik slotte wat man en muis beïndruk.
Met die jeugdige Lood de Jager wat skielik diepkant op slot moes inspring, maar wedstryd vir wedstryd met die hardebaarde saampraat en selfs ore aansit, het die Cheetahs ‘n kopsorg om vir Ferreira plek te maak. Om Francois Uys weer na flank te verskuif sou die losvoorspelersprobleme net vererger, want iemand wat verdien om in die begin-15-tal te wees, sal naderhand op die plaasvervangerbank moet begin uitval.
Met werklike spelbrekers agterlangs wat aan die yl kant is, kan die keurders begin dink daaraan om, soos al ‘n paar keer in die verlede gemaak is, ‘n ekstra voorspeler ten koste van ‘n agterspeler op die bank in te span.
Tot nou toe het Coenie Oosthuizen na sy besering juis van die bank af gespeel om impak te hê, en om saam met ‘n vars Ferreira en Viljoen op die veld te kom, gaan ‘n heel nuwe dimensie aan die spel gee.
Wat die agterlyn betref, is daar gelukkig heelwat veelsydige spelers wat dit moontlik sal maak om ‘n speler in te boet, hoewel die kwotakwessie ‘n stokkie hiervoor kan steek. In die begin-15-tal is Riaan Smit en Willie le Roux baie veelsydig. Dit beteken eintlik die plaasvervangerbank vereis net ‘n spesialis-skrumskakel en nog ‘n veelsydige agterspeler wat ook die mikke doeltreffend kan opsoek. Die twee beste skerpskutters – wat boonop beide veelsydig is – Nico Scheepers en Hansie Graaff, word nie nou deur die ringkoppe ernstig oorweeg nie. Dié twee spelers kan egter agterlangs inkom en nie net die slaankrag handhaaf nie, maar met hul lynbreekvermoëns dit selfs opskerp.