Subscribe by Email

Cele se stilswye word as skulderkenning beskou – AfriForum

AfriForum het vandag gesê dat die nasionale polisiekommissaris, genl. Bheki Cele, se uitstel en uiteindelike afstel van ’n mediakonferensie oor die Openbare Beskermer (OB) se verdoemende verslag, die indruk skep dat hy iets wil wegsteek. Volgens onlangse mediaberigte is daar sprake dat president Zuma die pos as Suid-Afrika se ambassadeur in Japan aan Cele aangebied het.

Nantes Kelder, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, het gesê dat Cele antwoorde aan die publiek verskuldig is en dat die publiek sy stilswye as ’n skulderkenning sal beskou. “Die publiek het ’n reg om ingelig te word of wanadministrasie met betrekking tot die huurooreenkomste plaasgevind het en wat Cele se reaksie op die verslag is,” het Kelder gesê. Indien Cele en sy departement hieraan skuldig is, meen Kelder, moet hulle ook, netsoos alle ander landsburgers, kragtens landswette tot verantwoording geroep moet word.

“Indien die bewerings oor sy herontplooiing waar is, sal dit ’n doelbewuste poging deur die regering wees om sy verantwoordelikheid in hierdie verband te ontduik. Kaderontplooiing is ’n verplasing van regeringsprobleme, eerder as ’n oplossing,” het Kelder gesê.

Luidens die OB se verslag is growwe wanadministrasie deur die departement van openbare werke en die Suid-Afrikaanse Polisiediens gepleeg met betrekking tot huurooreenkomste vir kantoorakkommodasie in Pretoria en Durban.