Subscribe by Email

CDP verwelkom die Malema-haatspraak-uitspraak

“Die Christen Demokratiese Party (CDP) verwelkom die uitspraak in die Julius Malema-haatspraakverhoor,” sê ds. Theunis Botha, leier van die CDP. “Nie alleen is die lied as haatspraak bevestig nie, maar Malema moet die koste van drie hofdae opdok – die tyd wat die regter meen die partye saakmakende getuienis en argumente aangevoer het. Dit dui daarop dat Malema die saak loshande verloor het.

“In ‘n hoogs gepolariseerde gemeenskap is die laaste ding wat die land en sy mense nodig het, iemand wat haatspraak inspan, ongeag die konteks. Dit is nietemin hartseer dat ‘n saak soos hierdie voor die regbank te staan moes kom, aangesien ‘n hof nie die mees geskikte plek is om lapwerk aan gesindhede te doen nie. Die blaam moet minstens ten dele deur die ANC gedeel word wat Malema in hierdie saak so voluit ondersteun het.

“Die CDP stem met die regter saam dat vryheid van uitdrukking nie ‘n meerdere reg tot die menswaardigheid kan wees nie. Ons stem ook saam dat die regte van minderhede broos is en dat die howe dit in verrekening moet bring.

“Ons vertrou dat die ANC nou by hierdie uitspraak gaan berus – ook by die gees daarvan deur nie te appelleer nie of bloot ‘n ander liedjie met dieselfde mening in te span nie, soos gebeur het na ‘Kill the Boer, kill the farmer,’ tot haatspraak verklaar is.

Die Christen Demokratiese Party (CDP) versoek dat die ANC die gees van die grondwet respekteer, veral die aanhef waar almal verklaar dat hulle die grondwet sal eerbiedig, en onderneem dat hulle sal bydra tot die heling van die verlede.

“Malema self het egter by herhaling bewys dat hy nie geskik is om enige leierskapsrol in hierdie land se toekoms te speel nie, en ons vertrou dat die ANC gou sal spring om hom uit enige leierskapsposisie te verwyder. “