Subscribe by Email

CDP reageer op Mazibuku se verkiesing

“Die Christen-Demokratiese Party (CDP) neem met belangstelling kennis met die verkiesing van me Lindiwe Mazibuku tot parlementêre leier van die DA,” sê ds. Theunis Botha, leier van die CDP.

“Ons glo egter dat die verkiesing eerder ‘n geval; van maatskaplike ingenieurswese as demokrasie was, aangesien dit vanuit die staanspoor duidelik was dat die partyleier, Helen Zille en die leier van die ID, Patricia de Lille, in ‘n veldtog betrokke was om naas hierdie twee vroue, ’n swart vrou in die party se leierskap op te neem. In die proses is ‘n politiek-korrekte beeld geskep maar die vraag kan wel gevra word: Waarom net vroue?

“Ons is ook seker daarvan dat die party in die proses na Zille se ideaal as die erfdeel van Helen Suzman omskep is, soos wat sy dikwels gesê het. Mnr. Athol Trollip pas nie in hierdie rol nie, soos blyk daaruit dat hy in die verlede ‘n meer behoudende benadering gevolg het, veral met betrekking tot morele kwessies. Ons mening oor hierdie saak, anders as by die DA, het niks met die kandidate se velkleur te make nie.

“Ons is nie seker oor hoe die meer konserwatiewe lede van die party wat die DA benut het om homself te vestig sal reageer op hierdie voltrekking van die proses waarin die party van hul waardes vervreem is nie, maar dit is die risiko wat die DA moes voorsien toe dit ‘n party vir almal probeer wees het.”