Subscribe by Email

CDP krities oor Zuma se steun aan ‘n Palestynse staat

“Suid-Afrika se steun vir ‘n Palestynse staat is geen verrassing nie,” sê ds. Theunis Botha, leier van die Christen-Demokratiese Party (CDP). “Verskeie ANC-ministers en adjunk-ministers, dikwels Moslims, het sedert 1994 opgetree asof dit reeds die geval was.

“Ten spyte van die 1993-Oslo-ooreenkomste waardeur die PLO die reg van Israel om te bestaan erken het, het die fisiese erkenning van Israel nog altyd tekort geskied, en in die geval van Hamas wat die Gazastrook beheer, heeltemal afwesig. Ons meen nie Suid-Afrika tree nou volgens die harde werklikheid op nie.

“Ons vertrou dat Suid-Afrika die VSA se beloofde veto hieroor met dieselfde waardigheid sal aanvaar as wat Rusland se veto teen sterker optrede teen die Assad-regime se slagting van sy eie mense, en Rusland en Sjina se veto teen strenger optrede teen Mugabe.

“Nogtans vind ons pres. Barack Obama se beloofde veto in hierdie saak gestroop van integriteit. Nadat hy aanvanklik positief oor die Palestynse saak was, het talle prominente Jode openlik hul steun aan die Republikeinse Party toegesê. Die demokrate, wat tradisioneel die steun van die oorgrote aantal Amerikaanse Jode kry, het onlangs selfs in ‘n tussenverkiesing in Queens en Brooklyn in New York die onderspit gedelf, wat ‘n eeu lank in die Demokrate se hande was. Is dit wat hom anders beïnvloed het?

“Ons doen ‘n beroep op alle vredeliewende state om eers by die Palestynse owerheid, insluitend Hamas, aan te dring om Israel ten volle as onafhanklike staat te erken en om te onderneem om alle terreuraksies soos die afvuur van vuurpyle op skole, te staak.”