Subscribe by Email

Casper de Vries het besluit om skoon te speel en tel nou sy woorde

Bekende komediant, Casper de Vries, het besluit om skoon te speel.

De Vries, wat bekend is vir sy “kragdadige” woordjies op die verhoog, het die rol van Henri in die komedie Vettie! Vettie! aanvaar wat vanaf Januarie 2011 op die verhoog gesien kan word. Dit sal die eerste keer wees in 19 jaar wat hy op die verhoog is as ‘n karakter wat hy nie self geskep het nie.

“Hierdie komedie is gesinsvermaak! Ek kry ‘n teks waarby ek moet hou, wat beteken dat ek nie een lelike woord op die verhoog mag of kan sê nie! Vir ‘n volle ses maande gaan ek in die SKOONSTE komedie in Suid-Afrika speel”, lag de Vries. “Ek is seker daar is nou mense wat na hulle asems snak en wat dit nie glo nie. Maar ek daag hulle uit om Vettie! Vettie! te kom kyk en om lekker te kom lag!”

Vettie! Vettie! is ‘n toneelstuk wat gekskeer met vroue se stryd om ontslae te raak van oortollige kilogramme.

Vicky (gespeel deur Karen Wessels) is ‘n suksesvolle eienares van ‘n boekwinkel in Hatfield, Pretoria, enkellopend en ooglopend vet. Sy ontmoet egter haar prins (Paul du Toit) en besluit om maer te word. Haar goeie vriend Henri (Casper de Vries) is seker dat sy nie gewig gaan verloor nie en put groot genot daaruit om haar siel uit te trek.  Gert (Johan Botha) is ‘n gourmet-kok wat ‘n baie sagte plekkie het vir Vicky en hy dra gereeld kos aan!

Die regie word behartig deur Tobie Cronjé.

Vettie! Vettie! is deur Johan Bernard vertaal en deur Pierre van Pletzen verwerk van Charles Laurence se trefferkomedie My Fat Friend.

Vettie! Vettie! gaan landswyd te sien wees. Die eerste speelvak is by die Roodepoortse Promusica teater vanaf 27 Januarie tot 20 Februarie 2011. Besprekings by Computicket.

Meer inligting oor die stuk se toerprogram is op http://www.vettievettie.co.za/

TOERPROGRAM
27 Januarie – 20 Februarie 2011 – Joburg Promusica Roodepoort
22 Februarie – 6 Maart 2011 – Carnival City – Mardi Gras
22 Maart – 10 April 2011 – Pretoria Staatsteater
19 – 24 April 2011 – Port Elizabeth Operahouse
26 April – 8 Mei 2011 – Artscape Drama Kaapstad