Subscribe by Email

Byt vas met saak teen Malema

Julius Malema

Julius Malema

Te midde van toenemende oproepe op Afriforum en die TLU SA om die haatspraakverhoor teen Julius Malema en die ANC te laat vaar, is ‘n lansie vir dié twee instellinge gebreek.
“Ons verstaan baie goed dat die hofsaak polarisasie aanblaas, maar skryf dit toe aan ANC-optrede wat eintlik die sub judice-proses ondermyn, en in die lig van die bestaande verbod op die lied, op minagting van die hof neerkom,” aldus die leier van die CDP, ds. Theunis Botha.
Die Christen-Demokratiese Party (CDP) het sy kommer uitgespreek oor toenemende beroepe op Afriforum om sy haatspraaksaak teen die ANC en die ANC se jeugleier, Julius Malema te laat vaar.
“Ons is meer bekommerd dat te veel meningsvormers nie nou deur ‘n sin vir geregtigheid, vir die langtermyn beswil van die land, gelei word nie, maar opportunisme om nie swart stemme van sekere opposisiepartye te vervreem nie.
“As nie-rassige party spreek die CDP hierdie mening uit na ‘n oorwoë beoordeling van feite en beginsels. As belangrike feit, is dit so dat die land heterogeen is, en dat verskillende groepe oor verskillende sake aanstoot sal neem. Om net een groep se sentimente nou te akkommodeer, beteken in effek dat die begrip ‘haatspraak’ sy juridiese en grondwetlike sin verloor, en dat groepe van mekaar kan sê en sing wat hulle wil, solank hul eie groep nie daaroor aanstoot neem nie. ‘n Mens moet voorts onthou dat die huidige bedeling die gevolg van ‘n skikking was, nie as gevolg van een groep se oorwinning oor ‘n ander nie. Deur dié lied word die gees van die skikking aangeval.
“Dat die saak so ver gevorder is, kan nie voor Afriforum se deur gelê word nie, dit is uit en uit die gevolg van onverantwoordelike leierskap van die ANC wat nie die kiesers met dienslewingspretasies kan oortuig nie, waar beloftes nou yl begin raak in die twintig jaar sedert die laaste apartheidswet afgeskaf is, en nou word terugeval op rassepolarisasie om van die verkiesing ‘n rassesensus te maak.
“Dit is boonop ook die ANC se vertragingstaktiek wat verseker het dat die hofsaak so kort voor die verkiesing plaasvind – iets waarteen kenners met die uitstel reeds gewaarsku het.
“Die ANC kan nie vir onverantwoordelikheid beloon word en die land boonop van sy grondwetlike regsproses gestroop word nie. Die CDP sou ook verkies dat die saak nie in die hof uitbaklei word nie, maar ook hier moet die ANC geblameer word deurdat die grondwetlike kommissie wat dit moes hanteer, die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van die Regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe in ‘n lakei omskep en gedekapsiteer het.”