Subscribe by Email

Bybelse spyse

Het u al gewonder wat die Bybelse mense alles in hul resepte kon insluit? Israel is immers as die land wat oorloop van melk en heuning beskryf. Ons lees van lensiesop, lamsvleis, vis, gesuurde en ongesuurde brood, wyn, olywe, manna, kwartels en selfs sprinkane.
‘n Huisvrou sal vandag waarskynlik swaar kry om ‘n maaltyd van Bybelse geregte voor te sit. Bekende kosse uit die Nuwe Wêreld is eers na Columbus se reise na die “ooste” bekend gestel—aartappels, patats, mielies, boontjies, pampoene, skorsies, pynappels, kakao, tamaties, avokado’s en soetrissies. Hoewel die Bybelse sjef waarskynlik artisjokke geken het, kom die Jerusalem-artisjokke ironies ook uit Amerika.
Uit die eerste hoofstuk van Joël kry ons nogal ‘n aanduiding van kosse wat die Bybelse mense geken het – soos dadels, gars en selfs die appel, naas die meer bekende wingerd en koring. Pere, uit Brittanje afkomstig, het die Bybelse mens skynbaar nie geken nie.
Hoewel die Bybel verskeie kere na groente verwys, is dit moeilik om ‘n lysie saam te stel, al word groente aangeprys, soos die kos wat Daniël en sy vriende in die paleis wou eet in die plek van die beste wat die koning laat voorsit het. In Numeri word ‘n paar genoem wat tydens die Egiptiese ballingskap geëet is soos die ui, knoffel, waatlemoen, komkommer en prei. Uit Rut wil dit voorkom of waatlemoene ook in die Heilige Land geken is.
‘n Hedendaagse stapelvoedsel uit die Ou Wêreld wat die Bybel ook nie noem nie, is rys.
Hoewel die geelwortel uit die Ou Wêreld kom, lyk dit nie of die Bybelse mense dit geken het nie. Boonop het wortels tot betreklik onlangs ‘n pers kleur gehad. Nog ‘n Ou Wêreldse groente wat nie genoem word nie, is ertjies.
Cooking with the Bible,
http://www.cookingwiththebible.com/results.aspx?option=all&q=all bevat ‘n groot aantal resepte wat verklap waaraan die Bybelse mense alles sou kon weglê—tot sprinkaansop, maar daar word ook hier en daar bietjie gekierang deur aartappels en sjokolade in te sluit.
Vandag se sjef is baie dank aan die Amerikaanse Indiane verskuldig wat soveel kosse ontwikkel het. – Herman Toerien

One Response to Bybelse spyse

  1. PETRO

    Oktober 20, 2012 at 6:51 pm

    INTERESSANTE INFO DANKIE WIL GRAAG BYBELSE ETE HOU