Subscribe by Email

Bybelse argeologie werp lig op die Bybel: Geroosterde koring

Bybelse argeologie werp lig op die Bybel

“Die oggend na Paasfees, presies op dié dag, het hulle ongesuurde brood en gebraaide koring, van die opbrengs van die land, geëet. Daardie oggend toe hulle van die opbrengs van die land eet, het die manna weggebly; daar was nie weer manna vir die Israeliete nie…” (Josua 5: 11 – 12)

Die Bybelse verwysings na die gebruik van geroosterde koring kom in Levitikus, Josua, Rut, en tydens die leeftyd van Dawid in 1 en 2 Samuel voor. Dawid het van ongeveer 1040 tot 970 voor Christus geleef. Argeoloë wat opgrawings doen in die antieke stad Hatzor in bo-Galilea het op 14 groot houers afgekom wat met geroosterde koring van ongeveer 3 300 jaar oud gevul was, dus ongeveer in Dawid se tyd.

Dié kruike en inhoud dateer uit die Kanaänitiese periode. Hatzor het in die middel Kanaänitiese periode 1 750 voor Christus, gefloreer, en ook later, teen 900 voor Christus, in die Israelitiese periode.

Argeoloë werk al sedert die 50-gerjare op die terrein, en die laaste aantal jare word nou elke somer gewerk en ‘n ouer laag van die Tel Hatzor (tel is die Hebreeuse woord vir ruïneheuwel bestaande uit verskeie lae uit verskillende tydperke) ontbloot.

Navorsers is verstom oor die omvang en gevorderdheid van die stad se antieke waterstelsel.

Argeoloë wat in die Heilige Land opgrawings doen, se werk strek oor verskeie baie interessante periodes. Dit sluit die voorhistoriese periode in van bewoning wat honderde duisende jare terug strek. Jerigo word as waarskynlik die oudste nedersetting ter wêreld beskou en is al 10 000 jaar gelede bewoon. Ander belangrike periodes is die Kanaänitiese-Filistynse periodes, die Israels-Joodse tydperk, die tydperk tussen die Ou en Nuwe Testamente waarvan die Makkabese die belangrikste is, die Nuwe Testamentiese tydperk, die Bisantynse tydperk, die Islamitiese tydperk, die sowat twee eeue van Kruisvaarders met die koninkryke van Jerusalem en Accra, en die Ottomaanse tydperk.

Bybelse argeoloë herbou gaandeweg die geskiedenis waarvan die Bybel soms die enigste bron is. Bybelse argeologie word beskryf as die onttrekking van materiaal wat vir die Bybel relevant is uit die algemene veld van argeologie, en die behoorlike verslagdoening daaroor. Die werklike Bybelse argeoloog maak dus van dieselfde wetenskaplike metodes gebruik as ‘n argeoloog, en sy bevindings word voor die vakwetenskaplike plasing daarvan aan ‘n portuuroorsig onderwerp.

Dit het reeds baie skeptisisme oor die geskiedkundige akkuraatheid van die Bybel die nek ingeslaan, maar dit skep terselfdertyd die kennis om konteks beter te verstaan. Slegs te weet van die verowerings deur die Makkabeërs kan verstaan word hoekom Galilea met die aanbreek van die Nuwe Testament ‘n Joodse gebied ver van Judea was, en waar Josef en Maria gewoon, en Jesus grootgeword het.

Oor sekere sake word nog debat gevoer. Was die huisgode wat Ragel by haar pa Laban vasgelê het inderdaad afgodsbeeltjies, of ‘n aanspraak op ‘n erflating, of titelaktes op waardevolle Mesopotamiese besproeiingsgrond?

Bybelse argeologie herskryf nie die Bybel nie, dit belig bloot die konteks.

Teoloë en teologiese studente wat op uitgrawingsterreine gaan handjie bysit, getuig gewoonlik daarvan as ‘n baie vervullende tydperk van hul lewe.

In die naburige Sirië vind ‘n argeologiese rampe met die burgeroorlog plaas. Dit onderstreep ook die noodsaaklikheid dat Suid-Afrika jaloers moet waak oor die bewaring van sy eie argeologiese rykdom.

Herman Toerien