Subscribe by Email

Buiteruimtellike lewe gevind?

Die dag as volledige bewyse van buite-ruimtelike lewe gevind word, sal dit die nuustoneel vir dae lank oorheers.
Einde verlede jaar het die wêreld kortstondig asem opgehou toe NASA aangekondig het ‘n spesiale nuuskonferensie word belê. Daar is wyd bespiegel dat NASA gaan aankondig dat bewyse van buite-ruimtelike lewe gevind is. Mense kon wêreldwyd via hul rekenaars na ‘n regstreekse video-uitsending van die konferensie kyk.
Die konferensie se berg het egter ‘n muis gebaar, toe aangekondig is dat ‘n mikro-organisme op aarde gevind is wat in ‘n arseen-omgewing kan leef. Dit sou dan bloot moontlik wees dat lewe elders ook onder basies ondenkbare omstandighede kon leef.
Op 4 Maart vanjaar maak ‘n NASA-wetenskaplike, dr. Richard B. Hoover, in ‘n artikel in ‘n vaktydskrif aanspraak dat hy die fosiele van buite-ruimtelike lewe ontdek het. Dié mikroskopiese fossiele, beweer hy, het hy in die skaars CI 1-metoriete ontdek. Sy artikel het in die Journal of Cosmology verskyn, ‘n tydskrif wat ook aan portuuroorsig onderwerp word.
Tog het die nuus die wêreld nie oornag getref nie, en ‘n Suid-Afrikaanse dagblad het eers op 9 Maart, amper ‘n week later, ‘n beriggie gedra.
Hoe rym dit dat ‘n blote bespiegeling dat bewyse van buite-ruimtelike lewe wat gevind sou wees, soveel belangstelling gaande maak, maar as die bewyse wel gevind en aangekondig word, dan is dit amper nie nuus nie?
Of dit verklaar kan word aan die hand daarvan dat baie wetenskaplikes die storie gogga, en dit as die produk van pseudo-wetenskap bestempel, is nie seker nie. Die feit is 5 000 van die wêreld se voorste wetenskaplikes is genooi om nou as’t ware ‘n nuwe “portuuroorsig” te doen, met ‘n honderd wat spesiaal geselekteer is. Dis ‘n ongehoorde getal, maar dit is duidelik, NASA en ander instansies wil dood, doodseker maak dat hierdie storie meer as net water hou.
Dus moet die wêreld eers asem ophou.
Maar wat is die implikasies as die storie wel water en lewe hou?
Ten eerste is dit seker dat pseudo-wetenskaplikes behoorlik sal baljaar. Veral die weergawe dat lewe op aarde uit die ruimte kom, is iets wat behoorlik sal vlam vat. Ook dr. Hoover meen dat dit sou beteken dat lewe wydverspryd in die ruimte voorkom.
Boonop lyk van die organismes wat hy identifiseer baie soos aardse organismes, maar ander weer heeltemal anders.
Dit kan dalk ‘n sterk teorie stel oor waar lewe op aarde vandaan kom. Dat so ‘n meteoriet miljoene jare gelede op die aarde geval, en van die organismes, of een daarvan oorleef het en in die strawwe omstandighede op aarde kon oorleef, en eventueel voortplant, en miljoene jare later, danksy evolusie, het ons ons hedendaagse lewensvorme.
Op dié manier kon lewe ook op ander planete, ook binne ons sonnestelsel, beland het, en ook oorleef het. Dink maar aan die opspraak wat koolstof-tekens van lewe in ‘n meteoriet waarskynlik van Mars afkomstig, en wat in Antarktika beland het, enkele jare gelede veroorsaak het.
Geen wetenskaplike sal egter hiermee wil halt roep nie. Waar kom die lewe in die meteoriete vandaan? Hoe het dit daar ontstaan, of was daardie meteoriete eens deel van ‘n planeet iewers in die ruimte wat uitmekaar gespat het, en toe primitiewe lewensvorme deur ‘n deel van die heelal begin versprei het?
En gaan die groen mannetjies dalk binnekort self hul opwagting maak om te kyk hoe dit met hul veraf familie gaan?
Nie sommer soos ons nou die wette van die wetenskap verstaan nie.
Al wat ons nou met sekerheid weet is dat dit moontlik is dat ons nie al lewedraende hemelliggaam bewoon nie. – Herman Toerien