Subscribe by Email

Britte dok op oor Bloody Sunday

Die Britse ministerie van Verdediging het ingestem om skadevergoeding te betaal aan die naasbestaandes van ‘n voorval in 1972 toe Britse soldate 13 betogers in Londenderry doodgeskiet het. Die voorval het daarna as Bloody Sunday of die Bogside Massacre bekend gestaan.

Altesaam 26 is raakgeskiet en twee is deur weermagvoertuie getrap. Sewe van die 13 oorledenes was tieners, en vyf van die gewondes is in die rug geskiet.

‘n Ondersoek wat onmiddellik na die voorval gedoen is, bekend as die Widgerytribunaal, het die soldate grootliks van blaam onthef. Dié bevinding is wyd as ‘n toesmeerdery beskryf.

‘n Ondersoek, bekend as die Sanville-ondersoek het verlede jaar, na 12 jaar, bevind dat die doodskiet nie geregverdig was nie. Die Britse Premier, David Cameron, het hierop namens sy regering formeel om verskoning gevra.

Die voorval het baie Rooms-Katolieke in die arms van die Ierse Republikeinse Leër gedryf. Die IRL het reeds twee jaar tevore met sy terreur begin, maar hierdie voorval, voor die oë van die publiek en die media, het die werwing van rekrute ‘n enorme hupstoot gegee.

Die Bloody Sunday Trust is in die lewe geroep om die dood van die dertien, asook ;’n veertiende wat ‘n paar maande later vermoedelik aan sy wonde gesterf het, te gedenk.

Herman Toerien