Subscribe by Email

Bric of Brics en die middelklas

Bric of Brics – die opkoms van ‘n wêreld-middelklas
Terwyl Suid-Afrika baie maak van sy opname in Brics, en selfs op steun uit hierdie geledere staatmaak om min. Trevor Manuel se aanspraak op die presidentskap van die IMF te onderskraag, is dit nie so seker of die persepsies buite Suid-Afrika so sterk loop nie. In die buitelandse pers loop die bespiegelinge sterk dat Sjina of Indië nie dalk self die nuwe grootbaas gaan oplewer nie.
Dit lyk trouens of Suid-Afrika se aansluiting by Brics skaars opgemerk is. In ‘n omvattende artikel in die Christian Sceince Monitor verskyn ‘n artikel oor Bric, waarin Suid-Afrika se toetrede skaars vermeld word. Dié artikel handel oor die Bric-lande se rol om armoede hok te slaan deur die vergroting van die middelklas. En dit maak indrukwekkende leesstof uit. Teen 2022 kan diegene wat in armoede leef, vir die eerste keer ‘n minderheid op die palneet wees, veral danksy die opkoms van die middelklas in die Bric-lande. Suid-Afrika en Brics word net gemeld in die konteks van lande wat kan leer hoe dinge binne Bric, en in die besonder Indië, Sjina en Brasilië, gedoen word, en nagevolg moet word.
Teen 2030 word geraam gaan die middelklas wêreldwyd uit vyf miljard soele tel, ongeveer twee keer soveel as nou. Dit stel selfs die 19de eeuse ontploffing van die middelklas in die skadu. Die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling meen dat teen 2022 sal die wêreldbevolking in plaas van meestal arm, meestal middelklas wees. Asiate sal twee derdes van die wêreld se middelklas uitmaak. Die IMF meen die Sjinese ekonomie sal dié van die VSA binne vyf jaar in die skadu stel.
‘n Aanduiding van hoe die Indiese middelklas gegroei het, blyk uit die feit dat Indiese burgers nou 10 % meer as Amerikaners in Londen spandeer.
Saam met die nuwe opkomende middelklas, kom ook veranderinge oor wat die persepsie van ‘n middelklas behels. Tradisionele is dit beskou as meestal salaristrekkers. Dit verskuif nou na ‘n persepsie van ‘n klas wat as enjinkamers vir ekonomiese groei dien, wat maatskaplike waardes handhaaf, wat werksetiek koester en selfs demokratiese waardes nastreef. Winkeliers, handelaars en professionele beroepslui anker die element van werksetiek.
Baie is ook huiwerig om die risiko te loop dat ekonomiese groei deur aandrang op demokrasie benadeel kan word.
In Brasilië het 24 miljoen mense tussen 2003 en 2008 uit armoede na die middelklas beweeg. Die middelklas maak nou meer as die helfte van die land se byna 200 miljoen inwoners uit. Hiervan besit die helftye ‘n rekenaar, en meer as ‘n derde het internettoegang.
Oor die omvang van Sjina se middelklas is daar minder sekerheid. Sommiges skat dit op 157 miljoen, ander op 800 miljoen. Maar selfs al is dit “net” 157 miljoen, beteken dit dat net die VSA ‘n groter middelklas het. Indië se middelklas sal na verwagting oor die volgende vyf jaar met 67 % toeneem, en dan sowat 267 miljoen mense, of ‘n kwart van die bevolking beloop.
Plaaslike wetgewing wat investering lok, skep meer werksgeleenthede, wat weer die vraag na produkte verhoog en die ekonomie verder stimuleer. Terselfdertyd word meer mense beter opgelei.
Suid-Afrika kan nie saamgesels nie – nog nie.
Die vervaardigers pas by veranderende markaanvraag aan, veral op tegnologiese gebied, en fokus daarop om ‘n beter produkte teen ‘n beter prys te lewer. Dié soort mededingendheid begin ‘n tol eis in Westerse markte.
Teen 2050 sal drie van die Bric-lande, Sjina, Indië en Brasilië na verwagting onder die wêreld se top vyf ekonomieë tel.
Verwerk uit die Christian Science Monitor