Subscribe by Email

Breivik se bloedbad kon voorkom wees – verslag

 

Die Noorse bloedbaddens wat op 22 Julie verlede jaar deur die ekstremis, Anders Breivik veroorsaak was, kon voorkom gewees het, lui die skerp kommentaar van ‘n kommissie van ondersoek.

 

In die verslag van 482 bladsye word beskryf hoe iemand die polisie met ‘n wenk gebel het oor die bom wat Breivik voor ‘n staatsdepartement geplaas het. Hy het ook ‘n breedvoerige beskrywing van Breivik gegee, en ook die nommerplaatbesonderhede van die bomplanter se motor. Breivik het ook met dié motor na die eiland Utoya gereis.

 

Agt mense is in die bomontpoffing dood, terwyl 69 mense op die eiland dood is.

 

Volgens die verslag het die inbelsentrum van die nooddienste die wenk na die polisie se kommandosentrum deurgegee waar bykans 20 minute lank nie daaraan aandag geskenk is nie.

 

Voorts meld die verslag dat die polisie noodplanne in plek het, maar dat die planne gebrekkig en nie volledig uitgevoer is nie.

 

In ‘n interne verslag het die polisie vroeër ook reeds toegegee dat nie vinnig genoeg opgetree het nie. Benewens ‘n kommunikasieprobleem het verskeie ander sake ook skeefgeloop.

 

Die polisie wat na Utoya gegaan het, het ‘n te klein boortjie gebruik, wat onderweg die gees gegee het. Hierna is nie van die bote van vakansiegangers gebruik gemaak nie. Die polisiehelikopter kon ook nie gebruik word nie, want die loodse was met vakansie.

 

Die kommissie looi in hul verslag ook Noorweë se veiligheidsdiens. Die kommissie meen Breivik moes onder hul aandag gekom het toe hy die chemikalieë aangeskaf het om die bom mee te vervaardig.

 

Die kommissie is ook ongelukkig omdat die straat voor die regeringsgebou nie vir verkeer afgesper was, soos sewe jaar tevore reeds aanbeveel was nie.

 

Die kommissie oorhandig Dinsdag die verslag met 31 aanbevelings aan die premier, Jens Stoltenberg.

 

Breivik se verhoor word op 24 Augustus voortgesit.  

Herman Toerien