Subscribe by Email

Breek weg na Roete 62

 

Deur  Charles J. Fourieroute 62

| in op Reis, Mark toe!

| October 6, 2014

Ons kyk vandeesmaand na ‘n paar wegbreekplekke met agri-toerisme as hul fokus langs die gewilde Roete 62.

Hierdie is almal vakansieplekke wat jou en die gesin nader aan moeder natuur, en die plaaslewe, sal bring. Ons kuier dan ook veral rondom die pragtige dorp Montagu wat slegs twee ure vanaf Kaapstad geleë is. Montagu was eens op ‘n tyd bekend as “Agter Cogmans Kloof”, en ‘n groot deel van die dorp se mooi Victoriaanse boustyl is sorgsaam deur die inwoners gerestoureer. Die dorp en omgewing spog ook met talle interessante museums, kunswinkeltjies, die bekende Avalon-warmwaterbronne en ‘n verskeidenheid wynroetes. Van die bekendste wynplase in die omgewing sluit in Van Loveren, Graham Beck, Weltevrede, Springfield, Uitvlucht en Rietvallei. Besoek ook gerus van die sagtevrugteboere se plase in die omgewing, asook olyfplase, en amandel- en ander neutplase. So spring in jou motor en beplan jou volgende naweek weg saam met ons!

Reiswenk: Die Klein Karoo se weer is van die matigste in ons land, en selfs in die wintermaande is die dae sonnig met enkele reënbuie. Met die lente word dit ‘n kleurvolle landskap, maar die beste maande om die omgewing te besoek is tussen Oktober en Maart. Besoek gerus ook www.route62.co.za vir meer wenke van ander agri-toerisme-vakansieplekke.

RIETVLEI VAKANSIEPLAAS

opresi-rietvlei

Die Hugo’s se Rietvlei Vakansieplaas is een van die historiese plase van Montagu en is gerieflik geleë naby Montagu, ongeveer 12 km daarvandaan, op die R62 op pad na Barrydale.   Dit is ʼn werkende vrugte- en wynplaas, waar ook met skape, beeste, pluimvee en soetrissies geboer word. Gedurende die seisoen is baie van hierdie aktiwiteite beskikbaar vir gaste wat dit interessant asook smaaklik sal vind!  Die plaas is nog een van die min wegbreek-plekke vir besige stadsmense waar hul in veiligheid in die berge of landerye kan rondstap. Die plaas is kindervriendelik, met ʼn swaai, “foefieslaaid” en trampolien vir die kleingoed, asook plaasdiere wat hulle kan voer met mielies, en wanneer moontlik vermaak “Oom Frikkie” die gaste met ʼn trekkerrit oor die plaas, met die een en ander leersame vertelling. Hulle bied verskeie selfsorgwooneenhede en almal is  ruim, netjies, en van al die  nodige toerusting en fasiliteite voorsien, so jy hoef net die eet- en drinkgoedjies saam te vat.

Aktiwiteite
• Hengel in die plaasdam • Staproetes met natuurlewe en voëls
• Bergfiets- en nabye 4×4- en perdryroetes • Swembad en trampolien en foefie-gly • Trekkerritte en plaasaktiwiteite •    Sterrekyk en rustige braaivleis • Verskeie nabye wynroetes

Vir besprekings skakel –  023 614 1787 of besoek – www.rietvlei.co.za


MONTAGU VINES

opreis-montagui

Die gewilde gastehuis Montagu Vines is destyds liefdevol deur die vorige eienaar Richard Llett gevestig, en later oorgeneem deur die nuwe eienaars Campbell en Ursula Blamey wat oorspronklik van ‘n suikerriet-plaas in Natal kom. Hulle is een van min gasteplase wat hul daarop kan roem dat hulle ‘n ‘groen bewuste’ en verminderde koolstof-voetspoor-gasteplaas bedryf. So gebruik al die kamers by Montagu Vines byvoorbeeld sonenergie vir verhitting en word bio-afbreekbare produkte gebruik wanneer dit by die skoonmaak van die kamers kom.
Hulle bied agt luukse, volledig toegeruste tuinkamers met en suite-badkamers, DStv, gratis internettoegang en ‘n kaggel vir daardie koue winteraandjies. Die verblyf sluit ook ‘n heerlike ontbyt in met vars vrugte uit die omgewing, jogurt, kase en tradisionele ontbyte.

Aktiwiteite    
• Staproetes (Bloupunt, Cogmanskloof, Badskloof en Aasvoëlkrans). • Historiese selfbegeleide toere deur die dorp van Montagu • Bergklim en besoek wêreldbekende rotsformasies • Besoek bekende wynplase in die omgewing • Goose River-bootritte op die Breederivier • Bergfietsryroetes en perdry.

Vir besprekings skakel –  023 614 3812  of besoek – www.montaguvines.co.za


ALMONDBURY-GASTEPLAAS

opreis-almondbury

As jy vir die naweek wil weggaan of ʼn rusvakansie met die gesin soek, is die geskiedkundige Almondbury-gasteplaas net die plek. Die gasteplaas is gevestig duskant die asemrowende Langeberge duskant Robertson, en ook binne trefafstand van die meeste van die besienswaardighede op Roete 62.  Hulle bied ouwêreldse verblyf aan in die gerestoureerde Old Barn en pragtige Medova-kothuis wat albei slaapplek vir 8 persone bied en ten volle toegerus is met alle geriewe, insluitende ʼn braaiplek. Verder is daar ook nog twee kleiner kothuise met slaapplek vir 2 persone elk. Almondbury is ook gewild as bymekaarkomplek vir groter gesinne, troues en partytjies, en hulle kan groepe van tot 30 persone akkommodeer indien jy vooraf reëlings tref. Die gaste-plaas is sowat 6 km buite Robertson op die Dassieshoek-natuurreservaat se pad geleë.

Aktiwiteite
• Verskeie wynroetes langs die R62 • Hengel en ander watersport • Bergfiets- en 4×4-roetes • Valskermspring • Museums

Vir besprekings skakel –  023 626 5994 of besoek – www.almondburyguestfarm.co.za


DORINGLAAGTE DAM-OORD

opreis-doringlaagte

Hierdie is ʼn gewilde buitelug-oord met kampeer- en luukse verblyffasiliteite. Die fokus is op die gesin en met die ligging op die dam is dit ’n watersportentoesias se paradys. Hulle laat egter nie motorbote toe nie, en geen kinders onder die ouderdom van 21 (wil jy glo) mag sonder hul ouers kom kuier nie. Dis ʼn plek om te kom ontspan en die natuur te geniet en geraas word nie geduld nie. Die kampeerplekke is goed toegerus op groen grasperke, elk met sy eie kragpunt, asook braaiplek. Daar is netjies ablusiegeriewe en ook ʼn gemeenskaplike kombuis. Verder bied hulle selfsorgkothuise waarvan meeste hulle eie binne-braai het, en ten volle toegerus is met alle geriewe. Bring dus net jou kos en drinkgoed saam. Doringlaagte Dam-oord is sowat 3 km buite Montagu geleë en dus is jy naby genoeg om ook die dorpsgebied en Roete 62 verder te verken.

Aktiwiteite
• Hengel verskeie vissoorte • Trap-bootjies, kajakke en kano’s • Bergfiets- en nabye 4×4-roetes • Swembad en trampolien •Trekker-rit en potjiekos

Vir besprekings skakel –  023 614 2034 of besoek – www.doringlaagte.co.za


RAVENNA MOUNTAIN RETREAT

opreis-ravenna

Die Ravenna Mountain Retreat is ook geleë in die majestueuse Langeberge op ’n werkende vrugteplaas sowat 28 km vanaf Montagu op pad na Barrydale. Hier bevind jy jou in die hartland van die Klein-Karoo se koppies en plantegroei. Dis ʼn rustige wegbreekplek wat stilte en rus bied en ook geskik is vir gesinsvakansies. Hulle bied self ʼn fotografiekursus aan, en die nabye Poortjieskloofdam bied jou toegang tot hengel en ander watersportaktiwiteite. Die verblyf wissel tussen luuks en bekostigbaar en die eenhede is almal ten volle toegerus. Die bekostigbare Ravenna Lite bied slaapplek vir 8 persone en daar is ook ʼn verskeidenheid kleiner eenhede met slaapplek vir 2 persone. Die luukse Eden-woonstel met asemrowende uitsigte oor die plaas het slaapplek vir 6 persone. Jy het dus ’n keuse van verblyf wat jou sak sal pas.

Aktiwiteite
• Staproetes, fietsry en voëlkyk • Kunswinkel en fotografiekursus • Swem in plaasdam of swembaddens • Nabye 4×4-roetes en perdry • Romantiese etes op dek

Vir besprekings skakel –  023 614 1492 of besoek – www.ravenna.co.za


TANAGRA

opreis-tanagra

Nog ʼn idilliese agri-toerisme-naweek-wegbreekplekkie wat as wynplaas bedryf word en redelik onbekend is, is Tanagra. Dis naby die pragtige Klein-Karoo dorpie McGregor, en vorm ook deel van die Robertson- en Montagu-wynroete. Die naam Tanagra kom van die Khoisan woord wat ‘lekker skaduplek’ beteken, en hulle is bekend vir hulle boetiekwyne en veral heerlike Grappa. Die 78 ha-plaas bied jou ook toegang tot ʼn verskeidenheid natuurlewe, voëls, plaaslewe en diverse plantegroei. En terwyl jy op die plaas kuier, kan jy hul verskeie produkte uittoets en aankoop. Hulle bied ook ʼn verskeidenheid van luukse en bekostigbare verblyfopsies vanaf selfsorg tot B&O met slaapplek vir 2 en 4 persone. Die eenhede is almal smaakvol gerestoureer met alle geriewe. Tanagra is maar sowat 5 km vanaf McGregor geleë, en dus is die dorp ook naby genoeg om te verken en by van die winkeltjies en plaaslike restaurante te gaan inloer.

Aktiwiteite
• Plaasaktiwiteite vir kinders • Besoek die kelder en wynproe. • Fietsry en staproetes op die plaas • Nabye 4×4-roetes en perdry • Vrolijkheid-natuurreservaat

Vir besprekings skakel –  023 625 1780 of besoek – www.tanagra-wines.co.za