Subscribe by Email

Braairekords by Windpompfees?

AfriForum Jeug en die Potgietersrus Distrikslandbou-unie (DLU) gaan hul moue oprol en braaitange olie met die doelwit om verlede jaar se rekord vir die langste boerewors van 514,5m wat gebraai is, by vanjaar se Windpompfees in Naboomspruit (Mookgophong) te verbeter. AfriForum gaan terselfdertyd probeer om nóg ’n rekord, vir die langste ononderbroke braai ter wêreld, te verbeter. Die huidige rekord van 32 ure word deur mnr Vito Polera, in vennootskap met Fruit and Veg City en die Foodlover’s Market in Kaapstad, gehou. Hierdie worsbraai-marathon word gehou om Suid-Afrikaners bewus te maak van die belangrikheid van moedertaalonderrig.

“Dit is belangrik dat ons as jongmense van Suid-Afrika ons herkoms vier, en AfriForum Jeug en die DLU gaan dit doen deur ’n 550m lange boerewors te braai,” volgens Ian Cameron, woordvoerder van AfriForum Jeug.

Die 514,5m lange boerewors wat in 2011 by die Windpompfees gebraai is, het die vorige rekord van 321m in die stof laat byt. Die wors het sowat 420kg geweeg en 40 mense het saamgewerk om dit op die roosters te plaas.

Cameron sê hulle sien uit daarna om die rekord weer te laat spat, en dat die poging sal simboliseer hoe verskeie organisasies vir ’n gemeenskaplike doel kan saamwerk.

“Met die bykomende rekordpoging om vanjaar vir langer as 32 uur aaneen wors te braai, word daar ook geld ingesamel om Afrikaanse skole teen die aanslag van die regering te beskerm. Ons wil wys hoe ernstig ons is oor braai, asook hoe belangrik Afrikaanse onderrig vir ons as jongmense is,” sê Charl Oberholzer, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug.

“Individue en maatskappye word uitgenooi om elkeen ’n uur van die rekordpoging te borg. Alle bydraes sal gaan vir die regskostes van AfriForum se Red Afrikaanse Skole-veldtog,” sê Oberholzer.

Die veldtog het begin nadat die drie skole in Fochville in Noordwes, wat nog Afrikaanse onderrig bied, deur die Gautengse departement van basiese onderwys ingelig is dat die departement hulle sal dwing om, met die aanvang van die 2012-skooljaar, groepe Engelssprekende leerlinge te akkommodeer, ongeag daarvan of hulle elders geakkommodeer kan word.

Indien individue of maatskappye ’n uur van die rekordpoging wil borg, kan hulle ’n e-pos rig aan jeug@afriforum.co.za. Vleis en wors wat na die braai oorbly, sal aan liefdadigheid geskenk word.

Die Potgietersrus DLU (geaffilieerd by die Transvaalse Landbou Unie van Suid-Afrika) is ’n organisasie wat homself beywer vir die voortbestaan van kommersiële boere sowel as voedselsekerheid in Suid-Afrika.

Poging om wors langer as 514,5 meter te braai:

Datum: 27 April 2012

Tyd: 11:00

Plek: Windpompfees, Naboomspruit (Mookgophong)

RSVP: Ian Cameron

Poging om vir langer as 32 ure wors te braai:

Datum: 26 April 2012

Tyd: 12:00

Plek: Windpompfees, Naboomspruit

RSVP: Charl Oberholzer