Subscribe by Email

Bou die aardkors op vir groot aardbewing?

Lesers van Die Burger sou gesien het dat die Ceres-omgewing die afgelope week deur ‘n aardtrilling geskud is. Die koerant haal die SA Raad vir Geowetenskappe aan dat dié aardtrilling 2,2 op die Richterskaal gemeet is.

Volgens die USGC se kaart vir aardbewings wêreldwyd was daar die afgelope week “net” 189 beduidende aardbewings. Die eerste probleem om veel sin hieruit te maak is dat die USGC wêreldwyd die aardbewings van magnitude 4,5 en sterker aandui, maar vir die VSA M2,5 en sterker. (Dis baie moeilik om die Seismiese Moment-magnitudelesings wat die USGC gebruik na die Richterskaal, waarvan SA ‘n aangepaste model gebruik, om te reken aangesien verskillende aspekte gemeet word).

Net ter illustrasie. Die onlangse skudding by Augrabies wat tot in Upington gevoel is, is deur die SA Raad vir Geowetenskappe as 5 op die Richterskaal aangedui, terwyl die USGC dit as M4,3 aangedui het.

Maar dis nogtans die aanduiding dat “net” 189 beduidende aardbewings op die USGC se kaart aangedui word wat die vrae laat ontstaan, want dis “gewoonlik” in die orde van so 230. Boonop het die USGC aardbewings van minder as 4,5 elders ook op die kaart aangedui om die kaart darem in die “maer tye” bietjie “lyf” te gee.

Op 25 Julie was daar byvoorbeeld 225 aardbewings op die kaart. Op 19 Augustus was dit 239, op 19 September “net” 200, op 24 Oktober 229, op 14 November 217, en op 7 Desember “net” 187. Op 24 Desember was daar weer “darem” 200 maar met die hulp van ‘n klompie wat andersins nie die paal sou haal nie, soos juis die ene by Augrabies, en nou weer 189. Hierdie lae lesing kom ten spyte van die uitbarsting van Mt. Cleveland suid van Alaska, met verhoogde seismiese aktiwiteite. Trouens die min aangeduide aardbewings duur nou al ‘n week of so, en die vrae oor of dit nie op ‘n komende groot aardbewing dui nie, sou dus ook nie uitbly nie. Die relatiewe grote van M 6,8 by Japan se Izu-eilande is vir daardie omgewing te “gewoon” om werklik as stawing vir hierdie afleiding te gebruik.

Ongelukkig werk die aarde se geologiese tydskale nie so dat ‘n mens hieruit kan aflei dat die aarde meer stabiel raak nie. Die tempo van kontinentale drywing en die spoed waarteen die aarde se konveksiestrome die aandrywing doen, sal nie oor so ‘n kort tydjie opmerklik verskil nie. Al die verskuiwings vind nie ewe vinnig plaas nie, en bronne gee dit gewoonlik tussen een en 10 cm per jaar. Die Noord-Atlantiese Oseaan verbreed jaarliks met ongeveer ‘n sentimeter en die suidelike Atlantiese Oseaan teen ongeveer dubbel die spoed. (Ander bronne dui soms veel vinniger verskuiwings aan).

Dit beteken dat spanning noodwendig by die skuur en drukvlakke van tektoniese plate sal opbou, en verreweg die meeste, veral sterk aardbewings, kom by sulke vlakke voor. Hiervan vind die meeste om die sogenaamde “ring van vuur” van die Stille-Oseaan plaas.

Om uit hierdie gegewens te voorspel dat ‘n groot aardbewing gaan voorkom is omtrent om te voorspel die maan sal om die aarde bly wentel.

Buitendien kan ander faktore ook ‘n objektiewe rol speel, soos die herstel van kontinente wat weer onder smeltende poolys begin oplig. Soms kan ‘n aardbewing relatief eenvoudig hierna herlei word, soos die een van M 8,1 wat in 1998 by die Baleinse Eilande voorgekom het. Die huidige 5 groterige aardbewings op of naby die suidelike poolsirkel die afgelope week is minder seker hieraan te koppel aangesien dit almal op bestaande tektoniese skuifvlakke voorgekom het.

‘n Interessante vraag is natuurlik of die huidige “stil” tyd verband hou met die onlangse “grote” by Augrabies en die trilling by Ceres?

Daar is verskeie areas waar aardbewingtrillings en ligte aardbewings periodiek in “swerms” voorkom, bv in Arkansas. Ook die meganisme wat die gereelde aardbewings by Luckhoff veroorsaak word nog nie begryp nie, en die voorkoms van gereelde aardbewings by Augrabies die afgelope bietjie meer as ‘n jaar word ook nog nie mooi verstaan nie. Die aardbewings in die Ceres – Tulbach-omgewing word egter mooi begryp en ligging van die breukvlak is goed bekend. Dis egter nie op die kontakvlak van tektoniese plate nie – Suid-Afrika behoort trouens nie groot aardbewings te kry nie, want alles dryf weg van die land af.

Word die kaarte met minder, en die kaarte met meer aardbewings vergelyk, wil dit voorkom of daar tydens die stiller tye meer aardbewings weg van die tektoniese rande voorkom.

Om dit regstreeks te koppel aan opbouende spanning omdat die spanning nie by die plate se kontakvlakke “ontlaai” nie, sou egter te “maklik” wees. Dit sou wees soos om die plaat tussen die tektoniese raakvlakke met ‘n plank te vergelyk. Nou word enorme, stadige druk van weerskante op die plank toegepas. Word die druk volgehou, en die plant glip nie by een of beide kante “af” nie, sal die plank self oor sy lengte begin tekens van druk toon. Op die swakste plekke sal dit dan begin meegee.

En hierdie “planke” het volop sulke swak plekke – soos juis die “fout” by Ceres. Oos-Afrika is ook stadig besig om van die res van Afrika af te skei, soos die teenwoordigheid van die slenkdal getuig (en ja, van die aardbewings het ook in die “stil tye” in die slenkdal voorgekom. Die navorsers meen die krag van die grote by die Baleinse Eilande is met ‘n ou aardkosrfout “gelei”.

Voorspellings oor aardbewings is nog in hoofsaak beperk tot die identifisering van gebiede wat waarskynlik getref kan word, en aanduidings te kry van hoe sterk die sterkstes van hulle dalk kan wees. Die USGC meen die Amerikaanse weskus word ongeveer elke 500 jaar deur ‘n groot tsunami getref, maar dit word aan ‘n ander skuifvlak as die San Andreas toegeskryf.

En oplaas is daar die amateur-voorspellers, wat meer na doemprofete klink, en waarvan baie niks anders as doemprofete is nie. Die ergstes is seker dié wat meen Los Angeles en San Francisco leef op geleende tyd – die kusstrook moes eintlik al lankal met ‘n groot slag van die res van die vasteland afgeruk en see in gesleep gewees het. Die inwoners word aangemoedig om so gou as moontlik te verhuis.

Hoewel die wetenskaplikes hulle nie aan hierdie spookstories steur nie, word ‘n grote tog verwag, en word druk op verskillende dieptes in boorgate gemeet om te probeer vasstel wanneer die grote te wagte kan wees.

Maar die wetenskap is wat dit betref, nog maar in sy kinderskoene.

Herman Toerien

2 Responses to Bou die aardkors op vir groot aardbewing?

  1. Charlotte

    Februarie 8, 2016 at 6:46 pm

    Baie interessante feite. Dr.Willie Marais het n waarskuwing gegee dat’n groot aardbewing Kaapstad gaan tref, en ons opgeroep om terug te draai na God..

  2. Adriana Stuijt

    Januarie 2, 2012 at 11:05 am

    Die meetinstrumente word natuurlik ook al hoe beter en so begin wetenskaplikes ook al hoe beter verstaan hoe die aardbewings-mechanismes werk. Dankie vir die interessante artikel.