Subscribe by Email

Bosniërs ontstoke oor ligte vonnis oor slavin

‘n Golf van protes spoel oor Bosnië nadat ‘n man wat sy Duitse stiefdogter ses jaar lank as slavin aangehou en saam met die varke laat slaap het, net twee jaar tronkstraf opgelê is.

Milenko Marinkovic, 52, is in Mei verlede jaar gearresteer na inwoners van die dorp Karavlasi ontdek het dat hy die 19jarige Bettina Siegner as slavin aangehou het. Sy moes saam met die varke slaap en hul kos deel, en is met ‘n sweep geslaan as sy ‘n waentjie sleep. Sy het net 40 kilogram geweeg toe sy gevind is, en haar lyf was met sere oortrek.

Marinkovic, wat saam met sy houvrou Slavojka in ‘n afgeleë deel gewoon het, het skuld beken na Bettina teen hom getuig het. Slavokja, wat skuld ontken, word nou afsonderlik verhoor.

Die golf van protes oor die ligte vonnis wat nou onder Bosniërs losgebars het is selfs groter as die ontsteltenis toe die voorval aan die lig gekom het. Die aanklaer het aangedui dat hy teen die ligte vonnis gaan appelleer.

“’n Mens kry twee jaar tronkstraf as jy hout steel,” skryf ‘n ontstoke Bosniër. “In Duitsland sou hy tien jaar tronk toe gestuur gewees het.”

Nog ‘n bisarre kinkel is dat Bettina se ma, Kristina Siegner, met wie Marinkovic wettig getroud is, steeds in Karavlasii woon, en sterk vir Marinkovic en Slavokja in die bresse tree. Sy hou vol dat haar dogter verstandelik gestremd is.

Herman Toerien