Subscribe by Email

Bokke deur in wêreldbeker

Die Springbokke het na die uitspeelrondtes deurgedring na Bryan Habana vroeg in die toets teen Samoa deurgesuiker het, en Morné Steyn die Springbokke met ‘n doelskop en twee strafdoele vroeg met 13 – 0 laat voorloop het.
Hoewel die Samoane die laaste sê op die telbord gehad het met ‘n ongekroonde drie, kon dit nie verhinder dat die eilandbewoners uit die toernooi geknikker is nie. Beide spanne het die bal ook in dryfbewegings oor die doellyn verloor.
Behalwe dat die Springbokke nou nog ‘n verdere sê in die toernooi sal hê sal die Springbokbreier Peter de Villiers nou met nog meer bekpraatjies vorendag moet kom om sy keuse van John Smit bo Bismarck du Plessis as nommer een haker te regverdig. Bismarck het dié toets begin om Smit blaaskans te gee. Toe Smit later wél speelkans kry, het hy byna dadelik besit afgestaan deur te sloer met die lynstaaningooi, en byna dadelik daarna ‘n geelkaart op die lyf te loop.
Die Samoane het talle swak plekke in die Bokke se mondering uitgewys. Die Bokke lyk veral kwesbaar teen uitgewerkte agterlynbewegings. Die Springbokke sou selfs meer klippe gekou het as die Samoane nie in kritieke stadiums die bal verloor het nie, maar dieselfde geld ook die tokse aan die ander voet.