Subscribe by Email

Boere moet opstaan en veg

Dit is tyd dat die boer vir sy regte opstaan en baklei, sê dr. Philip Theunissen, ’n forensiese rekenmeester en landbou-ekonoom.

Theunissen, wat die Computus-bestuursburo op Bethlehem bedryf, moedig boere aan om siviele eise in te stel teen Sasol ná die kunsmisskandaal waarin te hoë pryse verhaal is.

Hy het op die jaarlikse Waaikraal-boerevereniging se boeredag by Bainsvlei gesê ’n Amerikaanse studie het gewys dat pryse in die geval van onmededingende gedrag met gemiddeld 49% – en tot so veel as 100% – “opgemerk” word.

Hy het bygevoeg dat hy ’n idee het met hoeveel plaaslike kunsmispryse weens die oortreding van die Mededingingswet verhoog is. Hy het gesê hy beraam dat dit “waarskynlik tot so veel as 35%” kan wees.

Sasol Nitro is deur die Mededingingskommissie ’n boete van R250 miljoen opgelê vir die bedryf van ’n kartel om mededinging te beperk.

Theunissen het ’n ondersoek vir die Transvaalse Landbou-unie (TLU) na die aangeleentheid gedoen en pas sy verslag op die liggaam se kongres ingedien. Hy het aan boere gesê die kommissie het reeds bevind Sasol is skuldig en boere kan nou siviele eise instel.

Hy het boere daarop gewys daar is ’n rooi- en geelkaartstelsel in die ekonomie in plek waar hy kan kla as hy “in die losskrum geslaan word”. Dit is die Mededingingskommissie, maar hy het “ernstige kommer oor hoekom boere nie die rooi- en geelkaartstelsel gebruik nie”.

In elkeen van die klagte teen Premier Foods, Tiger Brands, Sasol, Senwes en Astral rakende kartelvorming was dit kleinsakelui wat gekla het wat tot die enorme boetes gelei het.

Theunissen het gesê dit pla hom dat groot spelers soos die kunsmisreuse boere kan ore aansit sonder teenstribbeling. Boere moet in dié maatskappye se gesigte wees en vir hulle sê: “Ek hou nie van wat jy doen nie, ek staan hier voor jou en ek sê dit vir jou in jou gesig dat die spoeg spat!”

’n Boer sal eerder omdraai as hy ingeloop is en net sê dan plant en ploeg hy maar net beter, want dít kan hy goed doen.

“Die boer maak nie gebruik van die stelsel tot sy beskikking nie. U het ongelukkig onder die beheerraadstelsel geleer om baie goeie produsente van u produkte te word.

“U is dit steeds vandag… U weet wat dit is om iets uit niks uit te produseer. Maar ongelukkig moet dit nie daar eindig nie. As jy teen die All Blacks wil speel, moet jy in hul gesigte wees, anders gaan hulle in jou gesig wees en hulle gaan jou laat les opsê. Jy moet jou hakke inkap. Jy moet hom in die oë kyk en sê: ‘Kom, kom!’”

Hy het gesê daar is ’n toekoms vir landbou, maar boere moet ’n paar goed reg doen: Hulle het nou die simpatie van die verbruiker, daar is skielik weer ’n minister en adjunk-minister van landbou wat luister, hulle moet druk op hul bedryforganisasies plaas om meer in dié ouens se gesigte wees. Boere moet ook verseker dat boerebates soos Senwes nie uit hul hande glip nie.

“En neem sterk standpunt in. Wees trots om ’n boer te wees. Staan vas, kap die hakke in en sê vir daardie ander ouens: ‘Luister, ek is trots om ’n boer te wees, want ek wil graag boer en ons sal baklei vir daai reg.’ Baklei vir jou regte as boer!”

– Volksblad