Subscribe by Email

Boere beveilig

“Dit vervul met afgryse om gereeld te hoor hoe mede-boere wreedaardig vermoor en hulle geliefdes barbaars verkrag word. Alles moontlik moet gedoen word om die boeregemeenskap teen hierdie weersinwekkende dade te beskerm. Dit is onaanvaarbaar dat die landbouers wat Suid-Afrika van voldoende kos voorsien en die ruggraat van die landelike ekonomie is, op hierdie wyse getreiter word”, sê Japie Grobler, voorsitter van die Agri Securitas Trustfonds wat landelike beveiligingsprojekte ondersteun. Hy sê voorts dat landbouers ‘n bate en kundigheidspoel van die land is wat waardeer en beskerm moet word.

Die Agri Securitas Trustfonds van Agri SA, ondersteun ‘n verskeidenheid inisiatiewe wat daartoe bydra om hierdie bate te beskerm, soos met die onlangse bewilliging aan die Berg Landbouvereniging naby Delportshoop in die Noord-Kaap vir die oprigting van ‘n radioherhaler. Deur die herhaler sal die boeregemeenskap nou met mekaar deur middel van radiokommunikasie in verbinding kan bly en in tye van nood, hulp ontbied. Hierdie stap is nodig omdat landlyn-telekommunikasie amper nie meer bestaan nie en selfoonopvangs in groot gebiede afwesig is. “Dit is ‘n voorreg vir die Trustfonds om hierdie bydrae te maak aan ‘n landbouvereniging wat ‘n gebied van ongeveer 4 900 km² bedien en sodoende daardie boeregemeenskap by te staan om effektief te kan kommunikeer”, sê Grobler.

Die radiostelsel is ook uitgebrei om plaaswerkers by afgeleë veeposte in te sluit. Die gemeenskap is ingeskakel by die Landelike Beveiligingsplan van die polisie in Delportshoop. Die plaaslike polisie ondersteun ook die projek. Hierdie stelsel word nie net vir veiligheidsdoeleindes gebruik nie, maar ook vir die koördinering van brandbestryding en veediefstalbekamping.

“Die veiligheidsituasie in afgeleë landelike gebiede is onaanvaarbaar met uiteenlopende behoeftes oor hoe die situasie verbeter kan word. Met bydraes van dié aard poog die Trustfonds om ‘n veiliger landelike omgewing te skep sodat boere en plaaswerkers op hul primêre taak, naamlik die van voedsel- en veselproduksie kan fokus”, sê Grobler.