Subscribe by Email

Boekbespreking: Om die Nguni-vure – Myra Scheepers

Wanner die skryfster op 80 debuteer, en boonop die bekende skryfster, Riana Scheepers se ma is, is dit maklik om af te dwaal en “Om die Nguni-vure” deur ‘n onregverdige bril te beoordeel. Die boek hét immers sy eie meriete, en verdien ‘n suiwer bespreking. Die westerse beskawing het sy rykdom aan verhale, veral kinderverhale, wat onder meer deur die Grimm-broers opgeteken is. Die Zoeloes se verhaleskat is niks armer nie, en Myra het dit op haar geneem om dié verhaleskat te ontgin, en vir die nageslag te bewaar, maar in Afrikaans, haar moedertaal. Myra is soos baie Afrikaners van haar omgewing by Vryheid in KwaZulu-Natal, heel bedrewe in Zoeloe. Sy gee egter erkenning aan haar man, Adriaan, wat die taal en kultuur nog beter ken en gehelp het met die idiomatiese uitlegte. Maar dit wat sy so kon inneem, word in lekkerlees, onopgedolliede Afrikaans weergegee. Die kleintjie wat wakkerword toe die voëltjie op sy gesig tjorts, die slim karnallie wat sê hy gaan buite piepie as verskoning om uit die hut te kan gaan om te gaan verspied, en so sy en sy boetie se lewens red. Onwillekeurig wonder die leser hoe en wanneer stories gevorm het. Sulke oorgelewerde verhale is dikwels baie oud, en outentiek eie aan die kultuur waaruit hulle spruit. Twee verhale is inderdaad baie oud (maar die leser moet maar self probeer uitpluis watter dit is). Maar het van die Zoeloeverhale, as deel van die Nguni-groep, nie dalk al lank gelede na die Afrikaner se verhaleskat “oorgespring” nie? Die Zoeloeverhale is vol lelike, stinkende karakters wat kindertjies (en selfs grootmense) opvreet. Die ooreenkomste met Langenhoven se Brolloks en Bittergal is soms merkwaardig. Ander verhale, so vermoed ‘n mens, het dalk hul herkoms in die Grimm-verhale. Die koning se twee lelike dogters wat hul mooi halfsuster ontslae wil raak, en haar dan in die modder gaan begraaf dat net haar kop uitsteek, totdat sy deur ‘n houtkapper gered word. Of die ma wat die slapende onding se kop afkap en haar kinders uit sy pens haal. Maar of ‘n mens nou dink jy herken Rooikappie en Aspoestertjie in die verhale … dit is pure in sy eie tradisionele omgewing en idioom uitgedruk. Aan die woord, gewoonlik is Gogo (die ouma-figuur) wat vir die kinders lesse van die lewe leer. Soms sit baba (pa) hand by. Die lesse is basies: Oppas vir ongehoorsaamheid aan ouers se raad, oppas vir skelms en veral vertrouensswendelaars; die goeie moet seëvier, wat in ‘n harde omgewing nie altyd ‘n uitgemaakte saak is nie. Soms kom draai die boek ook by die kontemporêre. Motoriste deur die meer landelike dele van KwaZulu-Natal merk met verwondering die baie diere op wat rustig oor selfs baie besige paaie loop. Hier en daar lê ‘n karkas, maar baie het nog nooit ‘n werfbok gesien wat doodgery is nie. Lees die boek en leer sommer hoekom dit so is. Van hond, bees, skaap bok en vark se busrit. So kan ook sommer gelees word hoekom honde so graag voertuie jaag en na die wiele hap. Heelwat van die stories sal nie deug as slaaptydstories vir kinders nie, en die boek maak die leser ook goed attent hierop. Maar die heerlike verteltrant terwyl ‘n mens se voete lekker sag op padlangse Afrikaans loop, maak dit ‘n heerlike leeservaring. Dedré Foucet wat vir die illustrasies gesorg het, verdien ook ‘n pluimpie om die eenvoud so in tipiese landelike karakter te kon vasvang. En gaan daar nog uit Myra se pen kom? Haar opgewonde seun Louis (die uwe se koshuiskamermaat op Kovsies) span self die woorde soos ‘n ervare skrywer in wanner hy trots oor sy ma in ‘n e-pos skryf. Ja, sy was al lank ‘n storieverteller, Ek stel hom graag self aan die woord: “Sy skryf toneel en laat groepe dit dan opvoer. En almal neem deel. As jy nie ‘n rol het nie dan word jy baie vinnig ‘n skapie of ’n engeltjie. Vir Kersfees gewoonlik Bybeltonele; nie net Josef en Maria en Betlehem nie, nee dis ANDERS, stukke wat jou hart ruk en die mense laat huil en huil van mooi en lekkerte, Rut en Naomi en Boas. Of Josef en sy broers van Slaaf tot Koning, Van Moses en Miriam en David en Goliat en die Samaritaanse vrou by die put, Gideon met 300 fakkels. Dit is stories met ‘n les! Baie keer as jongmens was ek Josef of Abraham of Johannes die Doper met sy velle aangetrek “Ag nou jaaaa toe die eerste kleinkinders kom toe is dit Giellie Goggatjie, Sjeef Sjongolollo, Mairatjie Mier en al die diertjies op die plaas en die insekte wat uit haar pen uitkruip. En die wat nie op ‘n Sondag kerk toe gaan nie word deur Krant Kankaan opgepik en ingesluk. Bladsye en boeke vol daarvan is op my rekenaar gebêre … boeke vol van wonderlikheid.” En terwyl ‘n mens wonder of hierdie wonderlike verhale van Louis se rekenaar gaan afspring, vertel hy dat die debuutboek in Engels vertaal gaan word. Swart skole soek dit …in Engels. Myra is ‘n merkwaardige vrou en dis duidelik dat sy ‘n vaardige skryfster in eie reg is. Uitgewer: Protea Herman Toerien

2 Responses to Boekbespreking: Om die Nguni-vure – Myra Scheepers

  1. Pingback: “’n Vaardige skryfster in eie reg”: Herman Toerien oor Myra Scheepers se Om die Nguni-vure | Protea Boekhuis

  2. Louis Scheepers

    Augustus 9, 2012 at 1:07 pm

    Dankie Herman ` Dit is ‘n baie goeie resensie en blootstelling vir haar, Jou konoptasie van Langenhoven se Brolliks en Bittergal is skerp en briljant. Ek self is natuurlik lieries oor die Afrikanse weergawes van die “ZULU idiome” wai in die boek voorkom, wat opsigself vir Afrikaans ‘n nuwe skat kan wees. Ek haal maar een aan ” Hy is Blind al kan hy sien.” in die sin van, die verontagsaming van ‘n negatiewe situasie of ‘n feit.