Subscribe by Email

Blou Bulle nie flou bulle

‘n Gelykopuitslag is miskien – gegewe dat as verbrande hout is – die beste uitslag vir die stryd tussen die Blou Bulle en die Cheetahs op die Vrystaatstadion. Elke span het een keer ‘n gekroonde drie geplant, terwyl elke span ook vyf strafskoppe deur die mikke gejaag het. Veral Johan Goosen, die Cheetahs se jong losskakel, se tweede poging pale toe was ‘n monster van diep uit sy eie halfgebied, terwyl Louis Fouché vir die Bulle self ene van uit sy eie halfgebied oorgejaag het.

Die Bulle het die meeste beduidende bresse geslaan, met veral sy senterpaar wat flymskerp was, maar gelukkig vir die Cheetahs het dit veral in die eerste helfte by tye gelyk of die besoekers die heel week aanslane geoefen het. Boonop was Fouché ‘n paar maal met skoppe pale toe windskeef. Tog het die beklemmende gevoel al ‘n ruk voor rustyd gekom dat die Cheetahs weer daarin sou slaag om ‘n neerlaag uit die kake van ‘n oorwinning te ruk.

Die Cheetahs het self mildelik tot hul amperse ondergang bygedra deur (al weer) heelwat besit vir die Bulle se snellers te skop. Met dié pasellabesit het die agterste driehoek reuse ente veld gewen. Dieselfde het met ‘n paar kantlynskoppe gebeur wat nie uit was nie.

Kortom – as die Cheetahs ernstige Curriebekeraanspraakmakers wil wees en nie net die span wat vanjaar die kleintjies die ergste boelie nie, sal ernstig oor die span se “taktiese” skopwerk besin moet word. Sodra een speler daarvan genees is, neem ‘n ander gewoon die rol oor. Miskien verklaar dit jus hoekom die Cheetahs die kleintjies – en vanjaar laat die kleintjies hulle teen al die spanne behalwe tot dusver die Cheetahs behoorlik geld – so maklik oordonder, maar teen die grotes vasval: Sodra die Cheetahs hulle teen stewige verdediging vasloop, word die balle gesool … dikwels met rampspoedige gevolge. Skop die opponente, lyk dit te dikwels of die Cheetahs minstens een keer per week langsaan by die krieketspelers se veldwerkafrigters kan gaan kers opsteek.

Die naweek se wedstryde het min aan die plasing van die spanne op die punteleer verander. Die Cheetahs hou danksy twee bonuspunte sy neus effens voor Griekwas, terwyl die Bulle so effentjies verder voor die Pumas gekom het en nou nog net drie punte agter die Griekwas is, wat sonder punte uit hul Leeustryd getree het. Die Leeus het nog ‘n 5 punt buffer oor die WP, wat die Luiperds geslag het.

Herman Toerien