Subscribe by Email

Bloemfontein – Student aan UV steeds vermis

UVS

Bloemfontein – ‘n Derdejaar-BEd-student aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) word steeds vermis nadat hy omstreeks 20:30 Vrydagaand 10 October 2014 voorgekeer is terwyl hy saam met ‘n vriend na die Qwaqwa-kampus gestap het.

UV-woordvoerder Lacea Loader het in ‘n verklaring gesê die Universiteit se bestuur en Studenteraad (SR) op die Qwaqwa-kampus werk onverpoos om Sinethemba Shezi op te spoor.
Die studente wou by die geriewe op die kampus studeer, aangesien hulle nie op die kampus inwoon nie. Die saak is onmiddellik by die universiteit se Kampusbeskermingsdienste aangemeld, wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in kennis gestel het.
‘n Soekgeselskap bestaande uit lede van die SAPD, die UV se Beskermingsdienste en die SR het die gebied deur die nag gefynkam.

Shezi word steeds vermis, ondanks verskeie SAPD-eenhede – honde, helikopters en duikers – wat die gebied oor die naweek tot Dinsdag 14 Oktober 2014 deursoek het.

Die kampusgemeenskap en die SAPD doen alles in hulle vermoë om die vermiste student op te spoor. Sy gesin ontvang ondersteuning van die universiteit.