Subscribe by Email

Block aan die been

Die vakbondfederasie Cosatu het sy kommer uitgespreek omdat die Noord-Kaapse ANC-voorsitter, John Block, steeds as LUR vir Finansies dien terwyl aanklagte van onder meer bedrog geldwassery oor sy kop hang.

Dit sal min mense verkwalik word as hulle aandui dat die jongste verwikkelinge na ‘n geval van dé ja vu klink. Block is al tevore ‘n LUR-skap kwyt na bewerings van korrupsie, en by geleentheid het hy ‘n onderneming onderteken om geld aan die departement terug te betaal.

Hy was ook onlangs weer in die nuus na sy soutmaatskappy ‘n hofsaak verloor het, onder meer omdat van ‘n vervalste mynpermit gebruik gemaak is.

Te midde van groot kommer oor die impak van die nuwe inligtingswetsontwerp op verklikkers, is dit ook onrusbarend dat ‘n amptenaar van Block se ou departement – dié van Vervoer, Paaie en Openbare Werke, mnr. Glen Chase, afgedank is na hy inligting deurgegee het oor sy LUR se geldvermorsery.

Tot Block se krediet moet toegegee word dat hy met die vorige aanklagte van korrupsie onskuldig bevind is.

Maar met die nuwe aanklagte oor sy kop, is dit ‘n geldige argument van Cosatu dat hy geskors behoort te word. Cosatu se nasionale woordvoerder, Patrick Craven sê deur Block te skors sal die publiek se vertroue in die regering herstel word. Craven sê dié beginsel moet op almal van toepassing wees.

Die konsekwente toepassing van die beginsel soos deur Craven voorgestel, sal die ANC se kaderontplooiingsbeleid onder groot druk plaas. Pas is ‘n LUR as ‘n metro se uitvoerende burgemeester aangestel wat in sy loopbaan ‘n rits verdoemende verslae – eers van die Openbare Beskermer, en daarna die ouditeur-generaal agter die blad het. In die kort rukkie wat hy as LUR diens gedoen het, is ‘n rits paaie-tenders deur die howe tersyde gestel, en in een geval selfs deur die hof her-toegeken. Sy verhaal is maar een van verskeie.

Hierdie hersirkulering van kaders werk net so negatief in as die gevalle waar nie teen kaders opgetree word nie, of nie voor dit werklik nie meer anders kan nie.

Die laaste ding wat Suid-Afrika nou nodig het, is ‘n wet wat dit nog moeiliker sal maak om openbare figure tot openbare verantwoording te roep.

Herman Toerien