Subscribe by Email

Blikoor-monsterskoppe

Die yslike strafskop wat Frans Steyn teen Fidji deur die pale gejaag het, is wel iets besonders, maar nie uniek in Suid-Afrikaanse rugby nie.
Die interessantheid is dat heelwat van die monsterskoppe van 60 meter en verder op die een of ander wyse ‘n Vrystaatse klankie het. Selfs die feit dat ‘n Blikoor op die skoolbanke sit verhinder nie dat ‘n monsterskop of twee opduik nie.
Frans Steyn het self Vrystaatse bande – hy kom van Ficksburg se wêreld af.
Edrich Krantz, Springbokvleuel, het as skoolseun op Tralies in ‘n voorwedstryd vir ‘n toets die toetsskare se oë laat rek deur ‘n bal van verder as sy eie tientreëlyn, en taamlik naby aan die kantlyn, deur die mikke te jaag. Verlede jaar het Johan Goosen, toe nog op Grey, teen Paul Roos ‘n nog langer skop deur die pale gelanseer. Verlede Saterdag het Goosen, nou vir die Cheetahs se Curriebekerspan, ook ‘n skop van by die sestig meter deur die pale gejaag.
‘n Week tevore het Meyer Bosman, wat nou vir die Haaie diens doen, teen die Blou Bulle gewys het nie twee linkervoete nie deur ook ‘n paar langes, waarvan veral een van diep uit sy eie halfgebied, deur die mikke gelig. Bosman is in Bethlehem gebore, dieselfde dorp waar Frans Steyn en die Du Plessisbroers op die laerskoolbanke gesit het.
Dink ‘n mens aan lang skoppe wat met gereelde tussenposes gelanseer is, dink ‘n mens aan De Wet Ras. Sestig meter het geen uitdaging aan hom gebied nie. Die ironie is dat toe hy die eerste keer vir die Wit Tornado, ook teen die Blou Blou Bulle gekies is, is hy op heelagter gekies en is ingesluit met die uitdruklike doel om die langes te lanseer. Maar dié dag was die skopvoet aan die ander voet, en het die Bloues se vleuel, Chris Luther, die monsterskop tot op die dwarslat en oor gejaag.
De Wet Ras se tydgenoot, Gysie Pienaar, het self nie geaarsel om elke nou en dan ‘n monsterskop te sink nie. Die werklike groot skopper in Blikoorland tydens dié bewind was egter Chris Richter wat veral in kubrugby, af en toe vir die Vrystaat se B-span die monsterskoppe ingeryg het.
In ‘n stadium het Noord-Vrystaat se Eric Herbert ook vir die Vrystaat diens gedoen. In ‘n stadium is die rugby op die naasliggende krieketveld gespeel, en daar het Herbert die monsterskoppe soos sesse ingeryg.
Nog ‘n tussentydse Vrystater wat die langes kom aandurf het was die oud-Springbokslot, Hennie Bekker.
Terwyl Frans in die Springbokspan is, sal hy die langes se lanseerwerk doen, maar die ander Steyn in die span, Morné, was ook in Bloemfontein op skool en skrik self nie om die 60+-meterskoppe aan te durf en sukses te behaal nie.
Die ouer en jonger monsterskoppers verskil oor wie dit die moeilikste moes vind – die destydse hardgepompte leerballe, of vandag se moderne ovaalballe?
Destyds, so lyk dit, is die langer skoppe dikwels deur voorspelers aangedurf. Name soos Frik du Preez, Jan Tromp, Tiny Neethling en Bekker het slot gespeel. Ook die Australiese kaptein en skopper, John Eales, het op slot gesak. Dis almal manne wat kleingeld van die middellyn gemaak het. Okey Geffin was ‘n stut.
Wat afstande betref, moet soms wiskunde ingespan word. Vroeër is die afstand in treë (jaarts) gemeet, deesdae in meter.
Maar as dit werklik makliker geword het, hoekom rek die anderlanders se oë dan as ons manne daai monstersdkoppe inryg?