Subscribe by Email

Blik Oor: Wie se skuld is dit?

In die Rooi taal noem hulle dit “playing the blaming game.” In Suid-Afrika, so lyk dit, is die skuldige lankal dood as die probleem ontdek word. Kyk nou net hoe word die boeke vir mekaar aangegee oor die handboekskandaal. En minister Angie sê sy sal g’n loop nie, dis nie sy wat die boeke geverlê het nie.

Dit laat Blik nogal dink aan sy skooldae toe hy ‘n slag op senter moes gaan uithelp. Kry die bal en maak of dit na die vleuel uitgegee word. Arme man se pale word gelig soos hy uitverkoop word sonder dat hy eens die bal het, terwyl Blik die doellyn haal voor die brieskende kruisverdediging Blik gevang en geboor het.

Die prez het diep gaan delf en op die oorsaak van die obsente boekprobleem afgekom. Dr. HF Verwoerd, maar nie almal stem met hom saam nie. Dr. Maphela Ramphela sê ook hy vat ‘n vet kans – die probleem is baie, baie nader.

Blik se blikore tuit skoon.

Mangaung se uitvoerige burgemeester, in sy hoedanigheid as voorsitter van Salga (Slap ampsdraers, leeglêers en gatkruipersassosie) , sê die probleme wat die ouditeur-generaal met die land se “munisipaliteite” aan die kaak gestel het, word oordryf, en die storie moet eers bespreek word.

Ai, net vyf persent, en geen metro wat slaag nie … hoe op aarde word dit as probleem oordryf? Maar nou ja, as iemand sedert 1994 self nog geen skoon oudit iewers kon kry nie, en boonop nog ‘n verdoemende verslag van die Openbare Beskermer en ‘n paar hofuitsprake op die lyf geloop het, dan is 5 persent seker in vergelyking ‘n onderskeiding.

Maar Suid-Afrika is nie heeltemal uniek nie. ‘n Klompie lande wat “afgehaal” is van Europese lande se lyste vir ontwikkelingshulp is willebooslik kwaad daaroor. En wie se skuld is dit dat daai lande in die verlede ook te veel van die geskenkte geld geverlê het? Ook lankal dood.

Maar Europa blameer ook links en regs vir hul eie finansiële probleme. Dis die euro se skuld, die lui Grieke se skuld, dis nou die Spanjaarde se skuld, dis inhalige bankbase se skuld, dis te veel uitgawes en te min inkomste se skuld, dis te min uitgawes om die ekonomieë te stimuleer se skuld…

G’n wonder nie die Vlaamse pers berig nou gereeld oor Europeërs wat “raakgebliksem” raak nie. En nee, hulle het nie in die kroeg gaan skoor soek en te stadig gekoes nie, hulle is deur die weerlig raakgelsaan.

Is die prez nie bang hy word dalk ook deur die weerlig geklits oor hy so kluitjies bak nie?