Subscribe by Email

Blik Oor: Wie oorlog wil hê, moet Nkandlasterkte bunkers hê

Blik verwonder hom oor hoe grootbek ‘n politikus kan wees as dit by oorlogspraatjies kom. Dink maar aan hoe grootbek Saddam was na hy Koeweit ingesluk het en hy vuis vir die wêreld gewys het. Met die volgende Golfoorlog het komiese Alie nog woes beduie hoe die invallers verslaan word, toe word Saddam se standbeeld omgetrek. En ons eie Askies Papslap so ‘n vinnige gaan sit op Bagdad se lughawe gaan maak en sê hy sien geen Amerikaanse soldate nie, voor hy haastig, haastig dapper vertrek.

Nou is dit Kim il Skoorsoek van Noord-Korea wat so woes beduie wie hy almal gaan uitlooi, en sommer onder die kernbomme gaan steek. Sou sy bunkers darem veiliger wees as Saddam en Nkandla s’n?

Nou ja, met te min soldate en polisie om ons eie grense en die platteland behoorlik te beskerm, kan Suid-Afrika darem troepe oral in Afrika ontplooi…

Seker die eerste ding wat ‘n mens in konvensionele oorlogvoering leer, is dat die logistiek baie groter is as die kontingent op die front self. Van betaalmeesters tot mediese personeel tot kokke, ekskuus, chefs. Tot ouens wat sorg dat die manne skietgoed het. Maar dis juis hier waar dit lol.

Toe Blik jare der jare gelede op Rooikop in die Namib gestasioneer was en verouderde kanonne heen en weer deur die woestyn moes sleep, is die troepe met oorpakke uitgereik wat dieselfde gelerige kleur as die harde woestyn gehad het. Elke week is die oorpakke omgeruil vir skones.

Die probleem was dat die oorpakke bitter oud was, maklik geskeur het, en onder die gemiddelde troeplengte erg uitgedun was. Die troepe het dus verdrink in die oorpakke, of dit het erg geknyp.

En so ‘n te klein oorpak het sommer maklik om die middel middeldeur geskeur, wat dan weer vasgewerk moes word, want skade is van die soldy afgetrek. En met die soldy so dat ‘n troep in die lang maande darem twee groen note uitgekry het, was skade betaal ‘n ramp.

Maar wat Blik eintlik wil sê – elke navraag oor wanneer die nuwe oorpakke kom is beantwoord met: “Dis op die trein.” Sewe en ‘n half maande lank voor die troepe elders heen is en daai trein steeds nie gekom het nie. En daai trein het van “die Republiek” af net vier dae geloop. Bik weet, want dis hoe lank dit die troepe, sonder oorpakke, geneem het om van Potchefstroom tot by Walvisbaai te kom, en toe nog ‘n rukkie agter op kanontrekkers Rooikop toe.

Of die oorpakke nou al gekom het, weet Blik nie.

Ook nie die kos wat die Sammajoor laat haal het na hy die voriges teruggestuur het Walvisbaai se menasie toe nie. Daai dag het die troepe bly met hul varkpanne afgesit eetplek toe, toe die koskarretjie opgedaag het. Maar die voorste troepe het skielik spoed verloor en begin drentel, en toe teruggestaan, en toe tref die reuk die agterstes ook. Van die dapperes het gaan kyk. In die vleisbakke “bloep, bloep” die vleis in ‘n groen “sous” – en dié geprut het niks met warmte te make gehad nie.

Die Sammajoor is woedend, en stuur dit terug met die opdrag dat ordentlike kos gestuur moet word.

Die troepe was vindingryk. Met die teen-insurgensieopleiding in die Kuseb kry die troepe loskruitpatrone, blênks genoem. Hiermee is plastiese koeëls gemaak, waarmee saans gaatjies in die dak geskiet is want dit reën mos nie in die Namib nie. Toe reën dit sommer twee keer. Met kordietstafies uit die kanonne se plofladings is ‘n vindingryke verskeidenheid dinge gedoen, soos om ‘n slap luitenant se pyp mee te stop. Dit het soos ‘n bom gewerk.

Die Paaslangnaweek moes mev. Oor ‘n vriendin se honde gaan kos gee. Blik ry saam, en sien ‘n straat het stil-stil ‘n nuwe naam gekry. Orals is nou bordjies aangebring wat sê dis Potholesstraat. En praat van ‘n gepaste naam…
Herman Toerien, krywer van Die reine waarheid en ander liegstories, http://www.boekemakranka.co.za/Herman.htm