Subscribe by Email

Blik Oor: Wie in soustreine ry…

So elke nou en dan spreek die orakel van die Vrystaat.
Neels van Rooyen, Namibiaan wat vir ons hier te lande kom vertel hoe om te transfomeer en transendeer en so aan. Nou het hy (al weer) die Vrystaatse Rugby-unie beet.
Nou nie juis dat Namibië se huidige rugbyspan enige noemenswaardige opposisie beduidende kompetisie sal bied nie, al is daardie span volgens die spanlyste nou nie juis gelaai met Owambo’s en Herrero’s nie. Herrie weet nie of vandag se Namibiese toetsspan kan kers vashou by die span doerriejare toe Willem Prinsloo, as hy besluit dis nou tyd om gou ‘n drie of twee te druk, gou so gemaak het nie. En André Stoop sy vernietigende stooptogte, ekskuus, strooptogte uit die laaste vesting geloods het.
Maar Neels het sy naam al tevore met ‘n plank geslaan. By geleentheid sy mond oor Kovsies uitgespoel – sy alma mater, en afgegaan het dat die universiteit tog ‘n Sotho-naam moet kry. Terwyl hy elke dag onder die borde met die naam Yunivesithi ya Freistata, deurgery het.
In Suid-Afrika kan nie almal so “getransformeer” word soos Neels nie. Een dag ‘n klerk in die provinsie se voertuigpoel, die volgende waarnemende privaat sekretaris van Premier Lekota, en die volgende adjunk-direkteur van gemeenskapsaktivering in die Vrystaatse Departement van Ekonomiese Sake.
Dieselfde departement wat nie baie lank daarna nie na ‘n verdoemende verslag van die Openbare Beskermer ontbind is. Maar Neels se transformasie was nog nie voltooi nie – hy het parlementslid geword, toe Wetgewerlid en is nou Skoor-voorsitter.
‘n Pos wat hom klaarblyklik soos ‘n handskoen pas, want hy soek met almal Skoor.
Maar regtig, Neels, Suid-Afrika kry genoeg advies van jou soort, soos by mense soos Malema en Manyi. Gaan terug Namibië toe en gaan wys hulle nou die soustreinspoor na ondergang.
Blik dink self die ontwikkeling van voorheen agtergeblewe gemeenskappe se sportpotensiaal behels meer as net studiebeurse by Grey, maar, as transformasie Neels se goewerment se beleid is, is die befondsing van ontwikkelingsprogramme ook die goewerment se baba. Wie weet, as die ontwikkeling werk, en daar is twee bleek gesiggies in die Bafana, dan wen die Bafana dalk weer.
Maar eintlik voel Blik sonder om te bloos dat die rugbymense sterk aan kwotas moet dink. Elke span behoort darem seker die helfte plus een spelers van die bond self in te sluit. Die Aussies wil juis nou ‘n bo-perk stel op die maksimum wat ‘n bond aan sy span se salarisse mag betaal, wat beteken dat daar ‘n beter verspreiding van rugbykrag sal wees. In wie se belang is dit as een bond ses slotte het wat almal beter is as die beste wat enige ander bond kan inspan?
Met so ‘n verpligte tuiskwota sal spanne in die noorde se “ontwikkelingsprogarmme” uit meer bestaan as om ander bonde se tuisontwikkelde ontwikkelingspelers bloot aan te skaf.
Blik dink hy het ‘n Blikskottelse goeie idee. Blik sien Neels het nou so mooi in die stoel gestoel, hy kan met vrug op vaskopstut ingespan word. Nooi hom na ‘n oefening en laat Coenie hom mooi in die skrums dubbel vou sodat hy die deel van sy anatomie kan sien waar hy sy nonsens moet indruk. En nee, Coenie sal nie sy hande ook gebruik nie.